‘Dis vir my lekker om met woorde te ‘toor’

Die Oudtshoorniet Cyril Clarke, wat deesdae ook woorde string tot gedigte. Foto: Ilse Jordan

HY is op Oudtshoorn bekend as Langenhoven Gimnasium se voormalige gewilde, vermaaklike én streng Engelse onderwyser. Tussen 2005 en 2010 het hy land- en wêreldwyd gereis as bemarker van Oudtshoorn Toe­risme. En die afgelope jare werk hy as vryskut-vertaler en taalversorger.

Voeg egter nou ook die titel “digter” by met Cyril Clarke (67) se eerste gedigte wat vandeesweek in ’n bloemlesing verskyn – een van hulle, credo, bo-aan die berig, met ’n ander, mammie, regs bo. Dié bloemlesing, Inkspraak2, word Saterdag (13 November) vrygestel en bevat gedigte en kortverhale wat ingeskryf is vir Ink Skryf in Afrikaans se 2021-dig- en skryfkompetisie. Die bundel bevat ’n seleksie van 616 gedigte en en 136 kortverhale uit al die inskrywings.

Clarke het vandeesweek ook gehoor dat twee van sy gedigte aanvaar is vir die Avbob Poësie­kompetisie vir 2022.
Waar kom dié digkuns vandaan, wou Die Hoorn vandeesweek by Clarke weet, en hoekom nou eers.

Hy vertel: “In my matriekjaar,1971, toe al die Afri­kaanse voorgeskrewe gedigte deur Totius, Mal­herbe, AD Keet, FW Reitz, AG Visser en­so­voorts geskryf is, kom ons Afrikaans-onderwyser, Marita Landman, vars uit die UPE, met die bundel van Breyten Breytenbach, Die ysterkoei moet sweet, in die klas. Sy maak die bundel oop en lees ’n gedig oor ‘die maer man met die groen trui’ en sê vir ons: ‘Julle moet weet dat gedigte nie almal is soos die gedigte van die digters wat julle in die eksamen moet ken nie – daar is ander ook.’ Ek loop na skool huis toe en skryf seker die aakligste, mees onvolwasse rympie ooit.

“In 1973 gaan ek na die Universiteit van PE toe. Daar dig ek en tot my eie vreugde en al my familie se stomverba­sing ‘publiseer’” ek ’n gedig in Contrast, ’n aweregse letterkundige tydskrif.

“Nadat ek begin onderwys gee, trou en gesin bou het, skryf ek net vir my vrou en my geheime ‘onderste laai’. Nadat ek ‘afgetree’ het, sorteer ek my kaste en my lewe uit en ek kom op my skryfsels af – met goeie opbouende kritiek van prof Ina Gräbe; en ’n woordlus gryp my vas en dis dit – weer van voor af!”

Waaroor dig jy?
“Woorde en die verskillende betekenisse en by-betekenisse van woorde fassineer my. Ervarings wat ek in my ont­hou en gemoed bêre, die gekheid van die mensdom, die wonder van mooi. Meestal dit wat ek op een op ander manier ervaar het. Ek glo opregte digters is maar gewone mense. Ek glo ook dat gedige persoonlike goeters is en dat ’n mens jouself blootstel as jy hulle vry laat vir ander om te ervaar.”

Hoekom dig jy?
“Dis vir my lekker om met woorde te ‘toor’. Verse is bondig met duisende betekenisse en ‘bondig’ is vir my goed. Ek het relatief min tyd oor om nog sommer baie met woorde te paljas. Dis ook ’n uitdaging en ’n afgeronde gedig is ’n heerlikheid. Ek dink Fanie Olivier het destyds in een van sy digbundels geskryf: Oppas vir die digter, hy ruik na mens. Ek wil graag so ’n ‘digter’ wees, wat volwaardig net mens is!”

Wat is vir jou maklik en moeilik?
“Ek droom soms naglank oop oë verse. Ek skryf lank aan ’n kort vers en vervang woorde op woor­de met woorde. Dis nie ’n moeisame proses nie, maar dis ’n proses. Ek dink nooit ’n vers is goed genoeg nie en ek weet ek sal hulle op een of ander stadium moet loslaat. Tog is ek maar versigtig hier­mee.” (Deur Liesel le Roux)

credo
dalk
moet ek
digter
dig
dat professore, doktore, smulpape en ander ape
die wortels van my woorde
kan beredeneer
en redekawel
oor my ritmes
en my ryme
se soetigheid en swawel

mammie
as jy so van bo af
oor jou kat-oog-raam-bifocals
met die diamanté-blommetjies
sonder jou seer
jou elke-ses-ure-eetlepel-morfien
na my kyk
sal jy saggies glimlag
want
ek is
lankal van Goedbegin af weg
skuins verby Jongensfontein
dwarsdeur Goeie Hoop
oor Lekkerleef
anderkant om Mooimeisiesfontein
duskant om Fraaiuitsig
langs Heuningkrans verby
deur Nooitgedacht
en Modderpan en Bitterputs
oorkant Laatmaarstaan
en Rus-My-Siel verby
al langs Langboompoortjie af
stewig
op pad
Moerland toe