Diewe by Dassie

Die skadunet by die Dassie Voorskoolse Sentrum in Bridgton wat ver-lede naweek gesteel is. Foto Angelique Erasmus

Deur Angelique Erasmus
DIE Dassie Voorskoolse Sentrum in Dassieweg, Bridgton het vir die soveelste keer onder diewe deur­geloop.

Hierdie keer is ’n skadunet, wat skaduwee verskaf vir die 190 kinders tussen die ouderdomme van twee en ses jaar, gesteel.

“Toe ek Maandagoggend hier kom, was die net weg,” vertel Shirley Wagenaar, bestuurder van die sentrum.

Die Hoorn het oor die jare al vele kere berig oor inbrake en diefstal by die skooltjie.

Wagenaar sê sy moes al toesien hoe verskeie pogings om die gebou en die kinders te beveilig wat haar en die sentrum duisende rande uit die sak gejaag het, stuk-stuk weggedra is.

Die lemmetjiesdraadheining is af­gesteel, ’n geboude muur se bakstene is in 2017 gesteel.

“Die muur was nog nie eers klaar nie, toe is van die stene uitgekap en weggedra. Toe begin ek maar net weer bou, en van daardie nuwe muur is ook stukke weggedra,” vertel sy.

’n Poging om die muur se bakstene te merk met blou verf het ook nie diewe weggehou nie. Onlangs is selfs die skroewe van die diefwering voor die vensters gesteel.

Wagenaar se nuutste toevoeging, ’n sekuriteitslig wat haar R1000 uit die sak gejaag het en met ’n maandelikse paaiement kom, stuit steeds nie die diewe nie.

“Tot die kinders se speelapparaat word gesteel. ’n Trein wat vir ons kinders geskenk is, is weggedra,”vertel Wagenaar.

Wagenaar sê egter sy is ondanks al die diefstal nie moedeloos nie, en sal aanhou om dit vir die kinders in die gebied elke dag so aangenaam as moontlik te maak.

“Elke insident maak ons net sterker en meer gemotiveerd om aan te hou, vir elke kind hier se ont­halwe,” sê sy.

Volgens sers Gretchen Michaels, woordvoerder van die Oudtshoorn Polisie, is ’n klag van diefstal deur die skool ingedien.