Die krag van sosiale media

Bo: Bentley (links) saam met sy sussie Bailey koel af in die warm Oudtshoorn hitte. Foto verskaf

Klein Bentley, die vyf maande oue Australiese hondjie, het op 30 Desember vanaf sy huis in Rooiheuwel, buite Oudtshoorn, weggeraak.

Hy en sy sussie Bailey het die oggend deur ’n klein opening langs hul hek uitgeglip, en bietjie gaan rondloop.

Beide is deur inwoners van die area gesien, waar hul toe reeds op pad terug na hul huis was na die avontuur.

Bailey was ongelukkig die enigste een wat dit veilig tot by haar huis gemaak het. Met Claudia Falch se tuiskoms was Bentley nêrens te sien nie.

“Ons het dadelik op die plaaslike WhatsApp-groep gevra of iemand ons hondjie gesien het, terwyl ons oral begin rondloop en soek het na hom,” vertel sy. Hulle het tot by die waterkanaal geloop en geroep, maar die hondjie was nie daar nie.

Sy het toe op Facebook, op Oudtshoorniete staan saam, ’n inskrywing geplaas, en gereeld aangehou om die inskrywing te deel en weer te plaas.

“Ek het van die begin af geglo ons gaan hom kry,” en sy het net nooit moed opgegee nie.

Intussen het persone van die Noord-Kaap Bentley se inskrywing gesien, en hul familie in Oudtshoorn gekontak, wat die hondjie opgetel het.

Bentley en sy sussie het albei katgriep gehad en by tye het dit gelyk of hulle dalk nie gaan oorleef nie. Bentley was met sy verdwyning steeds op medikasie en het kort voor dit ’n drup gehad.

Weldoeners het hom langs die pad gevind, waar hy baie deurmekaar gelyk het en sy been, waar die drup in was, gebloei het. Hulle het hom huis toe geneem, en besluit dat hulle nie ’n inskrywing op sosiale media gaan plaas nie, maar wel sal uitkyk vir een.

Hy was nog nie 100% gesond nie, en hulle het vir hom die regte kos gegee, bederf en na sy welstand omgesien. Om een of ander rede het hulle nie die inskrywing gesien waar Bentley se familie na hom soek nie.

“Nadat hul familie hul gebel het en vertel het dat ons hom soek, het hulle my dadelik gebel,” sê Claudia verheug.

Bentley se sussie was net so bly om hom te sien, en die twee is na 11 dae se verlange herenig en heeltemal onafskeidbaar.

“Hierdie was die beste goedvoel- storie van my lewe, en ons is ongelooflik dankbaar vir die goeie mense wat hom opgetel, versorg en vertroetel het, ons kan nie genoeg dankie sê nie,” sluit sy af. (ANGELIQUE ERASMUS)