Oudtshoorn-trompoppies skitter in nasionale kampioenskap

Trompoppies van Bridgton Sekondêr die week in aksie by die SA Trompoppiekompetisie. Heel voor is Brooklyn Swartz, In die tweede ry van links is Rushma Mohammed en Jayde Booysen en agter van links Malysha Plaatjies, Carly Blaauw en Camiah Pikaan. Foto: SAMCA Facebook
Deur Liesel le Roux
DIE trompoppiespan van Bridgton Sekondêr op Oudtshoorn is Dinsdagaand gekroon as die kampioen van kampioene in die
Presidentsliga van die SA Trompoppiekampioenskap wat tans op Oudtshoorn plaasvind.
Die spanne van twee ander hoërskole uit die Groter Oudtshoorn was boonop onder die topvyf in die eindronde, naamlik die span van die Hoërskool Môrester wat algeheel derde was en die span van die die Hoërskool De Rust wat algeheel vyfde was.
Hierdie is ’n besonderse prestasie vir ’n plattelandse dorp.
Die trompoppies van Bridgton Sekondêr was die groot sterre in die Presidentsliga toe hulle vier van die afdelings in die eindronde gewen het (Pom/Non Prop; die Flag Group, die Baton Group en die Large Drill) en die naaswenner was in die Throwing Prop-afdeling.
Die groot mikpunt van al die deelnemende spanne is om tot die finale groep van agt in die afdelings van die liga waarin hulle deelneem, deur te dring.
Lynn Petersen wat saam met Eunique Belelie die Bridgton-span afrig, sê die span en afrigters is in die wolke oor hul prestasie.
Omdat hulle die Presidentsliga gewen het, sal hulle volgende jaar in die Elite-afdeling deelneem.
“Die prestasies is die gevolg van harde werk en toewyding,” het sy gesê.
• Die Elite-afdeling van die kampioenskap het gister afgeskop met die spanne van nog drie plaaslike skole wat tot Saterdag in dié taai liga te sien is, naamlik die trompoppies van die Hoërskool Oudtshoorn, die Laerskool Van Reede en Sacred Heart Primêr.