Bo: Mornay Thysse van die Oudtshoorn Brandweer besig om die Kango Grotte-pad op te ruim.
Deur Liesel le Roux
MOTORBANDE is verlede Vrydag op die nuut opgegradeerde pad tussen Oudtshoorn en die Kango Grotte aan die brand gesteek nadat ’n groep van sowat tien lede van die publiek toegang geweier is tot ’n private venue waar ’n raadsvergadering die oggend plaasgevind het.
Sowat twee ure vroeër, met die aanvang van die raadsvergadering, het raadslede van die ANC en Icosa uit die konfe- rensielokaal gestap omdat sowat 10 lede van die publiek nie by die hek na die perseel ingelaat is nie.
Volgens die besturende direkteur van Buffelsdrift Game Lodge, Andries van Schalkwyk, is daar geen reëlings met hulle getref om lede van die publiek by die vergadering toe te laat nie, en was hulle ook nie daarvan bewus dat dit ’n raadsvergadering was nie. Van Schalkwyk sê die mense by die hek was luidrugtig en beledigend teenoor hom en het gesê dit is hul reg om die vergadering by te woon.
“Ek het aan hulle verduidelik dat ek nie geweet het dit is ’n raadsvergadering nie en dat die veiligheid van die personeel en die gaste beskerm moet word.”
Hy sê bewerings wat deur ’n ANC-raadslid gemaak is dat daar “groot slotte” aan die hekke was, in onwaar. “Die hekke was nooit gesluit nie.”
Kennisgewings dat die raadsvergadering weens sekuriteitsredes na Buffelsdrift verskuif, het verlede week in plaasli- ke publikasies verskyn. Lede van die pu-bliek wat die vorige raadsvergadering middel Junie in die raadsaal bygewoon het, was so rumoerig en lawaaierig dat die vergadering kortgeknip moes word.
• Voordat die vergadering Vrydag afge-skop het, wou ’n senior ANC-raadslid, Klasie Windvogel, weet waarom die mense by die hek nie toegelaat is nie.
Die ANC-raadslid Nondumisa Magopeni het gesê die groep wag al vir sowat 15 minute buite die hek, maar dat die hek “gesluit is met groot slotte”.
“Jy moes seker gemaak het mense kan inkom. Ons mense is ordentlik en hulle kan nie so behandel word nie. As daar begin word met die vergadering, gaan die ANC-koukus loop en by die mense aan-sluit,” het Magopeni bygevoeg.
Die munisipale bestuurder, Allen Paulse, het geantwoord dat die publiek welkom is by die vergadering afhangende van die aantal beskikbare stoele, maar dat die besluit om mense toe te laat by die eienaar van die venue berus.
“Volgens die eienaar is die mense beledigend en kan hy hulle nie dan toelaat nie. Julle weet as daar chaos is, sal die vergadering nie voortgaan nie,” het hy gesê.
Volgens sers Gretchen Michaels, woordvoerder van die Polisie, is hulle omstreeks 12:10 in kennis gestel van die brandende bande. “Niemand kon sê wie die bande aan die brand gesteek het nie. Die brandende bande is geblus en al die mense vreedsaam uitmekaar.”