De Rusters en Dysselsdorpers tel amper 200 sakke rommel op

De Rusters en Dysselsdorpers het verlede naweek behoorlik moue opgerol en saam met Trapsuutjies Projekte sakke vol vullis uit hul gemeenskappe verwyder. (Foto’s verskaf)

INWONERS, oud en jonk, van Dysselsdorp en De Rust het Saterdag en Sondag (18 en 19 September) vir Internasionale Kusopruimingsdag (International Coastal Clean-up – ICC) saam met Trapsuutjies Projekte moue opgerol om ’n verskil in hul gemeenskappe te maak.

Dié twee dorpe is vanjaar geïdentifiseer vir ICC-skoonmaakprojekte.

Op Dysselsdorp het die skoonmaakproses in samewerking met jeugleiers Chad Louw en Dullan Claassen en op De Rust in samewerking met De Rust Primêr plaasgevind. By Donkerhoek in Dysselsdorp se Donkerhoek het 53 mense, onder wie talle kinders, 153 sakke rommel opgetel, terwyl 54 mense op De Rust – 44 van hulle leerders van De Rust Primêr, 23 sakke rommel opgetel het.

As deel van die projek is data versamel oor watter soort rommel opgetel is. Die hoeveelheid wegneemkosverpakkings, plastiek- en papierborde, en babadoeke wat mense in die natuur weggooi, is volgens Trapsuutjies verstommend.

“Ons is so dankbaar vir elkeen wat moue opgerol en ’n bydrae gelewer het,” sê Samantha Lewis, een van Trapsuutjies se ICC-organiseerders. “Ons groot wens is net dat mense sal ophou mors!”

• Trapsuutjies is ’n “groen” nie-winsgewende organisasie gesetel op Oudtshoorn. Sedert die organisasie se ontstaan ’n aantal jare gelede vind ’n maandelikse #trashtag plaas, waartydens inwoners genooi word om vir ’n paar uur te help om ’n geïdentifiseerde area skoon te maak. Trapsuutjies het onlangs ’n Caroline Reid-toekenning ontvang, vir hul bydrae om riviere en die natuur te beskerm.

Enigiemand kan betrokke raak by die maandelikse #trashtag. Kontak Samantha by carolinel756@gmail.com of skakel 065 801 4810.