Calitzdorp-vrou aangekla van moord op saamleefmaat

’N 46-JARIGE vrou van Calitzdorp wat na bewering haar saamleefmaat, Henry Pietersen (46), Saterdag (17 Oktober) met ’n mes doodgesteek het, het Maandag in die Calitzdorp Landdroshof verskyn op ’n klagte van moord.

Volgens kapt Malcolm Pojie, Suid-Kaap polisiewoordvoerder, het die vrou Pietersen herhaaldelik gesteek. Die voorval het omstreeks 16:40 op ’n oop stuk veld naby hul woning in Royal Heights plaasgevind.

Pojie sê die beskuldigde en oorledene was by die huis toe ’n rusie uitgebreek het. “Daar word beweer die beskuldigde het ’n mes gevat en die slagoffer uit die huis gejaag. Terwyl hy na ’n oop veld buite die huis gestap het, het sy hom na bewering eers in sy bobeen gesteek. Sy het hom agtervolg en weer gesteek.”

Met die laaste aanval is Pietersen in sy skouer en noodlottig in sy bors gewond. Hy het sowat 50 m verder in inmekaargesak, en aan sy wonde beswyk.

Die verdagte is deur die Calitzdorp Polisie in hegtenis geneem na ’n oproep van ’n lid van die gemeenskap. Sy bly in aanhouding. (Deur Stefan Skapie Goosen)