Jannie Moolman. Foto verskaf
VANJAAR se Klassieke Klein Karoo Kersfees-konsert wat op Saterdag 7 Desember by Celebratio buite Oudtshoorn opgevoer word, spog met twee van die land se bekendste sangers, Jannie Moolman en Corlea Botha.
Die konsert wat verlede jaar vir die eerste keer op Celebratio, ’n uitvoer-granaatplaas, aangebied is, was ’n reuse-sukses.
Dit is vantevore ook al in die Paarl en op Hartenbos aangebied.
Ten spyte van die huidige droogte is daar volgens die organiseerder en eienaar van Celebratio, Gerhard Meyer, geen mooier plek om ’n ope-lugkonsert met gewilde klassieke liedere aan te bied nie.
“Nêrens anders in die land sien ’n mens soveel sterre as in die Klein Karoo nie. Dit is die perfekte venue vir ’n Kerskonsert – onder die sterrehemel met die berge aan weerskante van die plaas as uitsig.”
Corlea en Jannie sal die verhoog deel met die Stellenbosch Stadsorkes. Die musiek is spesiaal verwerk vir die vertoning en die gehoor sal kan uitsien na pragtige Kersliedere asook van die mooiste klassieke treffers. Daar sal ook geleentheid wees vir samesang.
Van die liedjies op die program sluit in “Stille Nag”, “Jerusalem”, “O Sole Mio”, “Nessun Dorma” en “You raise me Up”.
Die konsert, met Die Hoorn as mediaborg, begin om 19:30, maar die kos- en wynstalletjies is reeds van 17:30 af die middag oop.
Plaaslike restaurante soos Bella Cibo, Karooboom en Nostalgie het heerlike eetgoed op hul spyskaarte terwyl die Calitzdorp Wynkelder, Black Mountain Gin en Liquorland ook daar sal wees om te sorg vir iets te drinke.
Kaartjies kos tussen R160 en R200 en is aanlyn beskikbaar op www.celebratio.co.za of by PostNet op Oudtshoorn.
Vir meer inligting kontak Gerhard Meyer by 082 802 7138.