In die 6 Maart uitgawe van Die Hoorn is die jongste SAPD misdaadstatistiek vir Oudtshoorn bekend gemaak (Latest crime figures raise concerns for Oudtshoorn), wat inwoners geskok het.
Nou bied AfriForum se Oudtshoorn Buurtwag ’n opvolg met hul Februarie statistiek, wat ’n oorsig gee van die tipe insidente wat deur hul patrolliegroepe hanteer is.
Volgens die buurtwag is 316 voorvalle gedurende Februarie aangeteken in hulle voorvalleregister.
Die statistiek verteenwoordig slegs voorvalle wat aan patrolliegroepe gerapporteer is en gee dus nie die volledige prentjie van misdaad in die dorp nie, maar bied ’n aanduiding van die buurtwag se bedrywighede.
Van die voorvalle is 218 in die Noord- en Suid-sektore (oos van die rivier) aangeteken, terwyl 98 op Wesbank voorgekom het.
Uit die totale aantal voorvalle is 291 insidente verder volgens kategorieë opgedeel.
Die grootste gedeelte daarvan hou verband met verdagte persone wat deur patrollielede aangespreek of verwyder is.
Die kategorieë sluit in:
• 193 verdagte persone verwyder of aangespreek
• 31 diefstal- of inbraakvoorvalle
• 26 probleme met kinders op straat
• 13 onwettige slapers
• 12 onwettige karwagte
• 5 klipgooi voorvalle
• 4 dwelmverwante voorvalle
• 4 dronk of oproerige persone
• 3 oop vure wat geblus is
Volgens die buurtwag is 55 unieke name van individue of verdagtes wat tydens voorvalle hanteer is ook aangeteken.
Die organisasie het verder aangedui dat hulle gemiddeld 14 voorvalle per dag tussen 1 en 14 Februarie hanteer het, terwyl dit tussen 15 en 28 Februarie na sowat sewe voorvalle per dag gedaal het.
Volgens die buurtwag verteenwoordig dit ’n ongeveer 50% afname in voorvalle na 15 Februarie, wat toegeskryf word aan die gespanne politieke klimaat na die voorval op 13 Februarie, waarin minderjarige kinders glo aangerand is. Die saak is uitgestel tot 15 April.
Die buurtwag sê sommige vrywilligers was bekommerd oor pogings deur individue en orga-nisasies om die fokus van die voorval na die buurtwag te verskuif, wat volgens hulle as vervolging van buurtwagvrywilligers ervaar is.
Volgens AfriForum sal die situasie na verwagting mettertyd normaliseer namate patrollie aktiwiteite stabiliseer. Om betrokke te raak, kontak AfriForum Oudtshoorn-tak by 064 891 8175.
Buurtwag statistiek gee insig op voorvalle in Oudtshoorn
Foto:
AfriForum Oudtshoorn