Buurtwag hanteer 319 insidente in April

AfriForum Oudtshoorn se Buurtwag het sy statistiek vir April 2026 bekend gemaak, met altesaam 319 insidente wat oor die dorp hanteer is.

Volgens die buurtwag is dié syfers nie dieselfde as die SAPD se amptelike misdaadstatistiek nie, aangesien dit gebaseer is op voorvalle wat deur patrollies en buurtwaglede hanteer en aangemeld is.

Die Wesbank-sektor het 140 insidente aangeteken, terwyl die Noord/Suid-sektor, oos van die rivier, 179 insidente hanteer het.

Die buurtwag sê hul metode van rekordhouding is onlangs verder verfyn om voorvalle meer akkuraat te klassifiseer. Persone wat saam hanteer word, word nou as een voorval aangeteken, terwyl voorvalle wat voorheen onder “ander” of “verdagte persone” geval het, nou meer spesifiek volgens tipe geklassifiseer word.

Hoewel dit beteken dat die totale aantal voorvalle effens laer lyk, word die statistiek as meer akkuraat beskryf.

Volgens die statistiek bly “Verdagte Persone” die grootste kategorie, met 102 voorvalle wat in April aangeteken is. Dit verwys na persone wat tydens patrollies aangespreek word nadat hulle verdag optree of na-ure in strate en op persele rondbeweeg.

Daar was ook ’n merkbare toename in betreding van erwe. Indien items gesteel word, word dit as diefstal geklassifiseer, maar die buurtwag sê daar is toenemend gevalle waar persone bloot in erwe klim om rond te kyk of vullissakke te verwyder.

Volgens die buurtwag het hul veldtog om inwoners te ontmoedig om vullissakke vroeg uit te sit, groot sukses behaal, maar dit het daartoe gelei dat sakke nou eerder binne erwe geteiken word. Inwoners word versoek om enige gevalle van betreding onmiddellik aan te meld.

Diefstalvoorvalle het in April op 53 gevalle ge-staan, waarvan 12 kabeldiefstalle in woonbuurte was. Ander items wat gereeld geteiken word, sluit fietse, watermeters, lere, gasbottels en metaalitems in. Voorvalle waar mense van items soos selfone beroof word, word apart as roof geklassifiseer.

Die buurtwag het ook 21 gevalle van kinders op straat aangeteken, teenoor 22 in Maart. Daar is volgens die statistiek ’n toename in kinders wat skole dros en dan in skoolklere in woonbuurte rondbeweeg. In sommige gevalle is kinders saam met oortreders betrap, onder meer tydens ’n kabeldiefstalvoorval.

Nog ’n tendens wat uitgelig word, is die toename in hawelose persone in sekere gebiede. Die buurtwag sê nuwe gesigte, insluitend pare en fa-milies met troeteldiere, word toenemend in die strate opgemerk.

Gevalle van persone wat op plekke soos onder die Voortrekkerbrug of in die begraafplaas plak, word apart aangeteken, terwyl munisipale probleme soos beskadigde eiendom, pypbarste en dooie straatligte onder “Munisipaal” of “Vandalisme” geklassifiseer word.

Die buurtwag meld verder dat daar die afgelope maande ’n toename is in persone wat nakend of ontbloot op straat verskyn.

Volgens die statistiek is 18 verwysings na kontak met die SAPD aangeteken, sowel as vier SAPD-insidentenommer verwysings.

Die name van 47 unieke persone wat deur die buurtwag hanteer is, is glo aangeteken. Die name van sogenaamde top-oortreders in elke sektor is saam met die statistiek aan die Gemeenskapspolisiëringsforum (GPF) en SAPD oorhandig.

Die buurtwag meen die kouer weer dra moontlik ook by tot ’n toename in persone wat op sakepersele of stoepe slaap en vuurmaak. Volgens hulle is dit ’n munisipale wetstoepassingskwessie wat dringend bespreek moet word.