Burre kuier by Oudtshoorniet in Ierland

Burre Burger en Tian Stemmet tydens ’n eg Suid-Afrikaanse bring en braai die afgelope Saterdag in Ierland waar Tian en sy gesin sedert vroeër vanjaar woon. Burger het onlangs op uitnodiging vir Stemmet in Ierland gaan kuier waar daar geld vir Burger se droogtefonds in Suid-Afrika ingesamel is.  Foto Verskaf

Deur Angelique Erasmus
DIE gewese Oudtshoorniet, Tiaan Stemmet, het die afgelope Saterdag saam met sowat 70 gaste ’n eg Suid-Afrikaanse bring en braai in Ierland bygewoon om fondse in te samel vir Burre Burger se droogtefonds.

Stemmet, wat vroeër vanjaar met sy gesin ’n tweede keer na Ierland verhuis het, het Burger oorgenooi om die dag saam met hulle te spandeer.

Hy sê Suid-Afrikaners wat in die buiteland woon, wil graag die boere in Suid-Afrika help.

“Dis moeilik om in hierdie stadium te sê hoeveel geld ons ingesamel het,” het hy egter gesê. Volgens hom is baie geld direk aan die droogtefonds oorbetaal en ander in koeverte deur kerke en ander instansies gestuur.

Hy sê Burger het ook twee toets­truie van CJ Stander ontvang wat hy beoog om later by gholfdae op te veil.

Dié fondse sal ook vir die droogtefonds gaan.

Stemmet beplan voorts ’n sewes­toernooi waaraan sowat 32 spanne sal deelneem. Die inskrywingsgeld sal ook vir die droogtefonds geskenk word.

Stemmet sê daar is oral oor die wêreld belangstelling onder mense wat graag die Suid-Afrikaanse boere wil bystaan.

Hy is al deur mense in lande soos Australië, Amerika, Spanje, Nederland en Frankryk ge­kontak wat wou weet hoe hulle Burger kon kontak om hulle ook te besoek sodat hulle kon help met droogtefondse.

“Ek wil graag my vrou en kinders bedank vir al hul harde werk rondom Burre se besoek. Sonder hulle sou die dag nie moontlik gewees het nie.”