OP Woensdag (19 September) kan enige Oudtshoorniet wat ’n verskil in die dorp wil maak, kom saamhelp om die Grobbelaarsrivier skoon te maak.
Dié skoonmaakaksie is deel van ’n internasionale veldtog met 150 deelnemende lande. Gewone mense en instansies gaan in dié veldtog die see, riviere, slote, parke, berge en oop spasies skoonmaak om Wêreldskoonmaakdag te vier. Die projek word op
Oudtshoorn deur Susan Botha namens die Trapsuutjies Projekte vir die International Coastal Clean-up (ICC) gekoördineer.
’n Soortgelyk skoonmaakaksie word vir Vrydag, 14 September, op De Rust beplan.
Botha het besighede, skole, instansies en individue genooi om betrokke te raak. ’n Kort inligting- en beplanningsessie vind
Woensdag, 12 September, om 10:00 by CapeNature se kantoor agter die Queen’s Hotel op Oudtshoorn plaas.
“Die jaarlikse International Coastal Clean-up (ICC) word in Suid-Afrika deur Plastics SA gedryf met die doel om ons oseane skoon te maak. Deelnemende groepe kies ’n dag in September om enige rommel wat op watter manier ook al in die oseaan kan beland, op te ruim. Alles wat opgetel word, word aangeteken en die data word deel van ’n internasionale verslag wat gepubliseer gaan word,” sê Botha.
Rig navrae aan Marilize Beer (065 801 4810 marilizebeer@ yahoo.ca) of Susan Botha (081 248 4979; sbotha0@ gmail.com)