met Arno Greyling
DIE motorwêreld is maar ’n eienaardige affêre. Die talle soorte motorprodukte is tot ’n groot mate maar dieselfde, en tog ook nie.
Dié een het bietjie meer krag, daardie een is slim genoeg om jou te waarsku wanneer jy jou oë te veel knip, wat ’n aanduiding is dat die moegheid besig is om jou as bestuurder in te haal.
Van hulle parkeer hulself, en ons kan reeds uitsien na motors in die nabye toekoms wat sonder enige menslike insette jou van punt A na punt B gaan neem.
Terloops, daar word gereken dat die komende geslag Amerikaners nie meer rybewyse sal hê nie. Bestuurderlose motors sal as vervoer dien – ons weet reeds dat dinge in Afrika bietjie stadiger vorder, maar kom sal ons daar kom.
Die punt waarby ek wil uitkom, is dat ontwikkeling nou sneller as ooit te vore plaasvind. En vervaardigers is angstig om by te hou, anders gaan van hulle nie oorleef nie.
Dit is een van die redes waarom daar so baie oornames van een vervaardiger deur ’n ander is. Dit is tans aan die orde van die dag.
Een van die mees onlangse oornames is Peugeot wat Citroën gekoop het. Daarna is aangekondig dat die nuut gevormde groep ook vir Opel by die Duitsers gaan oorneem. Die Renault/Nissan groep (ek weet nie hoeveel van Die Hoorn se lesers weet dat dit eintlik Renault is wat Nissan gekoop het nie) het nou onlangs Mitsubishi bekom, en Tata is die trotse eienaars van die Jaguar-handelsmerk.
Sien, dit is baie goedkoper om oornames te doen en sodoende tegnologie te “koop” as om dit self te doen. En natuurlik spaar dit baie tyd… en tyd is geld.
Groot was die verbasing toe Mercedes nou onlangs aankondig dat die reus nou die bakkiemark gaan betree. Die ope geheim is dat die bakkie eintlik grotendeels ’n Nissan Navara in hart en ruggraat is, moontlik gemaak deur ’n ooreenkoms tussen die twee groepe.
En siedaar, Mercedes kan sy bekende driepunt-ster opsit en verder sakke vol geld met sy “Mercedesbakkie” maak. Natuurlik speel die ekonomie van skaal ook ’n reuse rol met die oornames.
Hoe meer die tegnologie benut kan word (dus hoe meer van die produk vervaardig word en in die mark kan kom), hoe goedkoper per eenheid is die vervaardigingskoste.
Ek lees juis verlede week in Die Burger dat BMW al reeds langer as 10 jaar die vervaardiger van al Peugeot se 1.6-enjins is! Ek wed jou dat hier sommer nog baie lesers van Die Hoorn is wat gereken het dat Peugeot onbetroubaar en tipies Fransman ook temperamenteel van geaardheid is, maar hoeka is dit die Duitsers wat die grootste gros Peugeots op die pad woema gee.
En nou is Opel ook in die Peugeot/Citroën- stal.
General Motors kon nooit eintlik werklik hul fantastiese handelsmerk tot sy reg laat kom nie.
Persoonlik het ek ’n baie sagte plekkie vir Opel. In die vroeë jare sewentig het ek as pienkvoet al te heerlik saam met Oupa
Danie in sy Opel Kadette deur die strate van Britstown gerits.
Goeie herinneringe van ’n puik motor wat vanjaar in sy moderne gewaad – die Opel Astra – as Suid-Afrika se Motor van die Jaar aangewys is en in 2016 as die Europese Motor van die Jaar.
Ek hoop van harte dat met hernieude posisionering en bemarkingsfokus ook hierdie handelsmerk sy regmatige plek sal inneem tussen die grotes in die bisarre wêreld van die motorhandel.
Groetnis tot ’n volgende keer…