Verskuiwing van Diereskut eers op ys

Deur Garnett Wicomb
DIE verskuiwing van die Oudtshoorn Diereskut na die munisipale depot naby die Oudtshoorn Stasie is vir eers op ys ge­plaas na protes deur werk­nemers by die depot.

Die munisipale bestuurder, Allen Paul­se, sê in ’n verslag wat tydens verlede Don­derdag se raadsvergadering aan die raad voorgelê is, dat die werkers glad nie tevrede is met die verskuiwing na die de­pot nie omdat dit ’n gesondheidsrisiko inhou en daar nie met hulle gekonsulteer is nie.

Die raad het op grond hiervan die be­sluit om die skut na die depot te verskuif herroep, en die beplanningsdepartement van die munsipaliteit getaak om ’n alternatiewe geskikte perseel te vind.

Die raad het op 26 April vanjaar by ’n vergadering besluit om die skut te verskuif na ’n dringende versoek van die Wes-Kaapse Minister van Finansies, Ivan Meyer, dat die skut verskuif moet word van die huidige perseel langs die riool­werke op die Kammanassie-pad.

In ’n brief van die werkersvakbond, Samwu, beskuldig werkers die munisipa­liteit van onmenslike aksie en totale disrespek vir hul gesondheid en veiligheid.

Die werkers het ook ’n petisie aan die munisipaliteit oorhandig

Die grootste ongelukkigheid gaan oor kommmunikasie en die gesondheidsrisiko wat die skut vir die werkers inhou, het Paulse gesê.

Die aangeleentheid is op voorstel van raadslid Hendrik Ruiters, voorsitter van die gemeenskapsdienste-portefeuljekomitee, uitgestel tot die volgende raadsvergadering vir ’n besluuit oor ’n geskikte alternatiewe perseel.