Begaafde pianiste na O’hoorn

Twee jong pianiste van die Universiteit Stellenbosch, Marlene Vlok (onder) en Lourens Fick (bo), tree volgende Woensdagaand (12 September) in die Klein Karoo Ostrich Emporium op Oudts­hoorn op in die produksie Lente – Musicaux (note) waartydens hulle werke van onder andere Mozart, Liszt en Rachmaninoff gaan speel. Foto’s verskaf

TWEE begaafde pianiste van die Universiteit van Stellenbosch (US), Marlene Vlok en Lourens Fick, tree op Woensdag (12 September) op in die volgende konsert van Oudtshoorn Kunstevriende wat in die Klein Karoo Ostrich Emporium gehou word.
Marlene, ’n oud-leerder van die Hoër­skool Oudtshoorn, en Lourens, wat in die Paarl grootgeword het, gaan in hul konsert werke uitvoer van Mozart, Liszt, Rachmaninoff en transkripsies van Czif­fra.

Die prys van R100 per persoon sluit ’n verwelkomingsdrankie by aankoms in. Almal is welkom om ’n eie piekniekmandjioe saam te bring en saam te kom kuier. Kaartjies: by die deur / e-pos Antoinette le Roux by tonie1@telkomsa.net / sms of WhatsApp na 084 567 1030).

Meer oor die pianiste
Marlene Vlok, die dogter van Jan en Annelise Vlok van Oudtshoorn, spesia­liseer tans in komposisie aan die US. Sy is ’n student van Antoni Schonken en Arthur Feder, het ook klas gehad onder Hans Roosenschoon en haar klavierlektore sluit Luis Magalhaes en Nina Schumann in. Marlene het meesterklasse ontvang by onder meer Roberto Plano en Jura Margulis. Sy beoog om na voltooiing van haar studie verder oorsee te gaan studeer.

• Lourens Fick het grootgeword in die Paarl en werk tans aan sy MMus-graad in klaviervoordrag waarna hy in die buiteland vir sy doktorsgraad in musiek wil studeer. Hy het al saam met die Kaapse Filharmoniese Orkes, die US Simfonie­orkes en die Kwazulu-Natal Filharmo­niese Orkes opgetree en was oor die jare die wenner van verskeie musiekkompetisies soos die Johann

Vos en Unisa SA Musiekbeurskompetisies (2008) en die Yamaha Key Performers of Note-kompetisie. Hy was ook ’n semi-finalis in die 4de en 5de Unisa Nasionale Klavierkompetisies.