Burgemeester liggiefees bring binnekort vreugde

Kersliggies-2024. Foto: Die Hoorn-argief

Oudtshoorn se uitvoerende Burgemeester, Johan Allers, tesame met Pediatric Care Afrika is tans besig met ’n projek om lig en vreugde in die lewens van kinders te bring wat dit die meeste nodig het.

Hierdie Kersfees reik hul uit na kinders in areas soos Blomnek, Vlakteplaas en Buffelsdrift. Op Sondag 30 November, om 15:00 maak die Kersmark se stalletjies oop.

Kersfees geskenkpakkies, ’n lekker ete asook ’n program propvol vermaak word vir die dag beplan. Stalletjie aansoeke sluit vandag 21 November om 12:00.

Daar sal ook ’n “Angel Tree” opgerig word, waar enige skenkings van klein geskenkies onder die boom geplaas kan word. Kersfeesbome en versierings is ook welkom om die terrein so feestelik as moontlik te maak. ’n Geskenke en ete kos R75 per kind. Gysman Vervoer het reeds ingestem om vervoer te borg vir die kinders wat vanaf Buffelsdrift kom.

Die Oudtshoorn Dominos-Unie het ingestem om die brandstof vir die bussies te borg. Hulle daag ander klubs en instansies uit om ook betrokke te raak. Sover is daar reeds meer as 400 kinders wat die dag gaan bywoon.

Instansies, besighede of persone wat in hul privaat hoedanigheid betrokke wil raak, of geskenkies borg, kan vir Demorian Appolis by 044 203 3004 kontak.