“Ons is ’n weerspieëling van wat die geskiedenis van ons gemaak het … en hoe ons mekaar mismaak het met die geskiedenis as verskoning.” Hierdie was Breyten Breytenbach se woorde tydens sy afsluitingstoespraak van die Tuin van digters in Wellington in 2023. Francois Lötter, wat jare lank die bestuurder van die Breytenbachsentrum in Wellington was, het Maandag ‘n uldeblyk oor Breytenbach op Linet geplaas na die afsterwe van die digter Sondag.
Die internasionaal-bekende en bekroonde digter, skrywer en kunsternaar is Sondag in Parys oorlede. Hy het op 16 September sy 85ste verjaarsdag gevier. Hy was by sy vrou, Yolande met sy dood. Hulle is in 1962 getroud en het in Frankryk gewoon waar hy in 1983 burgerskap aanvaar het. Met sy afsterwe het boodskappe op sosiale media en in die media begin instroom waar digters, skrywers en letterkundiges hulle medelye betoon en ook hulde bring aan die reuserol wat hy in Afrikaanse letterkunde en as mentor gespeel het.
Breytenbach was nie net ’n beroemde digter en skilder nie, maar was ook ’n uitgesproke aktivis teen apartheid en was vir sewe jaar in aanhouding weens sy politieke uitsprake teen die destydse regering. Hy het in Frankryk gewoon gewoon en is met ‘n besoek aan Suid-Afrika in 1975 in hegtenis geneem. Behalwe vir werke onder sy eie naam, het hy ook die skuilname BB Lasarus, Jan Blom en Jan Afrika gebruik.
Breytenbach se grootwordhuis is in Wellington en staan vandag bekend as die Breytenbachsentrum waar die Tuin van digters-fees jaarliks aangebied word. Daar is ook ’n klein teater in die gebou, die Bordienhuisteater, wat gereeld vir boekbesprekings en literêre geleenthede aangewend word.
Breytenbach se werke is onder andere met die Hertzogprys, die UJ-prys, die WA-Hofmeyrprys en die Proteaprys vir poësie bekroon.
Breyten Breytenbach en sy vrou Yolande op die verhoog in die Bordienghuisteater met sy 80ste verjaarsdag in 2019. Foto: Litnet.com
Breyten Breytenbach (regs) saam met sy vrou Yolande en Francois Lötter by die Breytenbachsentrum met een van sy besoeke.