Brand by stortingsterrein ná hitte en rukwinde

Die brand by die Grootkop-stortingsterrein buite Oudtshoorn wat die naweek vanaf Bridgton se kant afgeneem is. Foto verskaf

’N BRAND wat Saterdag op Oudts­hoorn se vullisterrein, die Grootkop-stortingsterrein, uitgebreek het, was teen Sondag geblus, sê die Oudts­hoorn Munisipaliteit in ’n antwoord op ’n navraag van Die Hoorn.

Die brand, wat volgens inwoners van die nabye Bridgton ontstaan het nadat die stortingsterrein al drie weke lank gesmeul het, is klaarblyklik Saterdag aangewakker deur ongewone warm weer en sterk wind.

Volgens Rodwelll Witbooi, be­stuur­der: vaste afval by die munisipaliteit, het die brand omstreeks 13:00 uitgebreek en het die brand­weer, stootskrapers en vragmotors die brand probeer blus.

Teen 18:00 was die vlamme dood en het amptenare die terrein verlaat, maar teen 19:00 het dit weer op plekke opgevlam.

Die brand is daarna gemoniteer totdat dit Sondag finaal geblus is.

Die munisipaliteit het inwoners die week verskoning gevra vir die ongerief wat die brand en rook veroorsaak het.