Botsing eis 3de slagoffer

Chandre Nortje (18).

Deur Liesel le Roux
DIE botsing waarin twee jong Oudts­hoorniete op 13 Julie gesterf het, het verlede Donderdag ’n derde slagoffer geëis toe Chandre Nortje (18) in die George Hospitaal oorlede is.

Chandre, wat ’n leerder was van die Oudtshoorn Vaardigheidskool, was se­dert die botsing in ’n kritieke toestand in die hoësorgafdeling van die hospitaal. Hy het ernstige brein- en ander beserings in die botsing opgedoen.

Volgens sy tannie, Valencia Meyer, is hy breindood verklaar en is die lewens­onderhoudende toerusting waaraan hy in die hospitaal gekoppel was, Donder­dag afgeskakel. Hy is die middag omstreeks 15:50 oorlede.

Chandre en vier vriende was die oggend kort na middernag op pad terug na Oudtshoorn vanaf Dysselsdorp toe hul voertuig teen ’n betonversperring op die treinbrug sowat 5 km buite Oudtshoorn gebots het. Bertrum Mi­chaels (22), ’n student aan die Suid-Kaap Kollege, en Jacques (Jacklin) Prins­loo (26), wat vir die padkontrakteursfirma Roadmac gewerk het, het in die botsing gesterf.

Chandre word deur sy ma, Charlene Nortje, en ’n ouer broer, Charbryann, oorleef. Hy word Saterdag op Oudts­hoorn begrawe. Die diens is 10:00 by die huis in Coleridge Uitsig 13 en 11:00 in die Verenigende Gereformeerde Kerk (VGK) in Bridgton.

Troosdienste is gisteroggend om 08:30 by die skool en om 19:00 by die VGK gehou.