Blossoms: Samewerking die antwoord, sê grondeienaars

DIE eienaars van die plase waardeur die water­pyp­lyn vanaf die Blossoms-diepwaterboorgate na Oudtshoorn gelê moet word, sal enige hofgeding teen hulle betwis.

Dr Anton von Below, voorsitter van die Klipri­vier Oewereienaarsvereniging wat op 20 April 2019 gestig is om met die Oudtshoorn Munisipaliteit oor die impak van die projek op die betrokke plase te onderhandel, sê die oewereienaars het besluit om die nodige stappe te doen om hul regte te be­skerm. “Ons siening is dat ’n onderhandelde skikking met die munisipaliteit nog voor die einde van die jaar bereik kan word, maar dat die besluit om die hof te nader en die daaropvolgende geregtelike geding met die grondeienaars hierdie projek met maande en selfs jare sal uitstel.”

Die Hoorn het verlede week berig dat die Groter Oudtshoorn-raad tydens ’n spesiale raadsvergade­ring op 29 Oktober besluit het om die Hoogge­regshof te nader vir uitsluitsel oor geskilpunte met van die grondeienaars. Indien dié geskilpunte met grondeie­naars nie betyds bygelê kan word nie, is die toe­koms van die projek in die gedrang.

Die bedrag van R20 miljoen wat die nasionale regering as ’n “infrastruktuur-toekenning” aan Oudtshoorn bewillig het en wat gebruik moet word om die pyp te lê, moet voor 30 Junie 2021 bestee word. Indien dit nie voor die datum bestee word nie, sal dit verbeur word.

Von Below sê die grondeienaars het tot dusver hul samewerking gegee om met die munisipaliteit te onderhandel, maar gaan nie toelaat dat hul eiendomme deur die projek gedegra­deer word sonder billike vergoeding vir die grond wat deur serwitute van hulle ontneem gaan word nie.

“My aanvanklike telefoniese kommunikasie met Chris Swart (waarnemende direkteur tegniese dienste) ná die onlangse raadsvergaderings het by my die indruk gelaat dat die munisipale raad in beginsel goedkeuring verleen het vir billike vergoeding aan die betrokke grondeienaars. Groot was my verbasing dus toe ek die skrywe van 30 Oktober 2020 ontvang waarin die besluit om die hof te nader aan ons grond­eienaars meegedeel is.

“Uit my telefoongesprek met hom daarna kon ek aflei dat daar op dié drastiese stap besluit is weens kommer oor die gesloer met die kontrak.

Indien dit die geval is, moet ek dit onomwonde stel dat die gesloer nie voor die deur van die grond­eienaars gelê kan word nie, maar eerder die ge­volg is van die nodige gesprekke wat nie betyds tussen munisipale amptenare kon plaasvind nie. Redes wat aangevoer word hiervoor was onder andere die Covid-19-gren­deltydperk, maar ons vermoed binnege­vegte by die munisipaliteit die afgelope tyd was ’n bydraende faktor hiertoe.

“Die meeste van u lesers is bewus van die stryd tussen die vorige burgemeester en munisipale bestuurder en hul volgelinge in die munisipaliteit. Dit wil voorkom of belangrike munisipale sake agterweë gelaat is, en dat politieke binnegevegte voorkeur geniet het.”

Daar is verskeie kwessies wat die grondeienaars voel aangespreek moet word. Hulle wil onderhandel oor die waardevermindering van hul grond en besighede as gevolg van die projek. Hulle meen ook die onttrekking van groot vo­lumes water mag hul bestaande boorgate affekteer, en versoek ’n hoe­veelheid water uit die pyplyn vir huishoudelike gebruik.

Hulle sê ook dat hulle aansienlike regs­koste moes aangaan om sinvol met die munisipaliteit te onderhandel oor die projek, onder meer deur ’n konsepooreenkoms te laat opstel, en versoek dat die munisipaliteit vir die koste moet instaan.

“Die pyplyn en ander infrastruktuur gaan ’n dramatiese visuele impak op die landskap laat, met ’n onooglike kaal letsel van tot 14 meter breed deur die landskap. Ons sensitiewe Karoo-plantegroei gaan onherstelbaar beskadig word.

“Voorts moet ons besef dat die mense langs hier­die pyplynroete se veiligheid en sekuriteit aansienlik beïnvloed gaan word deur die projek wat vrye toegang aan talle mense gaan verleen. Dit gaan dit makliker maak vir ongewenste elemente om ons eiendomme te betree en kwaad te doen.”

Swart het verlede week aan Die Hoorn gesê die deur op verdere onderhandelinge tussen die munisipaliteit en die grondeienaars is beslis nie toegemaak nie. “Die raad wil steeds poog om met elke individu tot ’n vergelyk te kom.” (Deur Liesel le Roux)