Bekroonde drama se laaste vertonings hierdie naweek op Oudtshoorn te sien

Marlo Minnaar in Die halwe huis. Foto: Hans van der Veen

OUDTSHOORNIET Ricardo Arendse se bekroonde drama, Die halwe huis, wat in 2022 by die KKNK gedebuteer het, keer terug na Oudtshoorn vir een laaste speelvak Vrydag en Saterdag, 17 en 18 November.

Marlo Minnaar is in 2022 as beste akteur by die Toyota US Woordfees bekroon vir sy rol as Bumper Jansen. Onder regie van Lee-Ann van Rooi word die gehoor op ‘n reis geneem deur Jansen se kinderdae op Oudtshoorn, sy tienerdae op die Kaapse Vlakte en sy grootmensjare in Johannesburg.

Kaartjies teen ’n spesiale prys van net R50 is te koop by Pick n Pay of Webtickets (https://www.webtickets.co.za/v2/Event.aspx?itemid=1537003082). Die verhaal van Bumper Jansen begin die dag wat hy alles gaan beëindig, maar voordat hy sy polse oopvlek, wil hy darem sy kant van die storie vertel. In dié eenmanstuk neem Bumper (Marlo Minnaar) ons deur sy kinderdae op Oudtshoorn, sy tienerdae op die Kaapse Vlakte en sy grootmensjare in Johannesburg.

Hy laat ons in sy Ouma Bettie se huis sit en stel ons voor aan sy Oupa Kerneels, die bruin man wat soos ’n wit man lyk en swart mense haat.

Hy vertel ons ook van sy pa, Daniel, onder wie se vuishoue sy ma, Cathy, deurloop.

Alles in ’n poging om uit te vind: Wat dryf ’n man wat op die punt is om ’n groot deurbraak in sy loopbaan te maak, tot selfdood?

Be the first to comment on "Bekroonde drama se laaste vertonings hierdie naweek op Oudtshoorn te sien"

Leave a comment

Your email address will not be published.


*