Bekoorlike De Rust-finalis!

Die bekoorlike De Rust is aangewys as een van die 9 finaliste vir Kwêla se Dorp van die Jaar, met sy pragtige argitektuur en historiese geboue, omvou in die Swartberge, en die voorstoep van die nimlike Meiringspoort. Natuurskoon soos geen ander plek in die land nie. Foto: Die Hoorn Argief

De Rust, Oudtshoorn se sustersdorp is Sondag-aand, 19 Mei 2024, aangewys as een van 9 finaliste, van elke provinsie insluitend Namibië, in Kwêla se dorp van die jaar kompetisie.

Die dorp is Sondag as die eerste finalisdorp aangekondig.

Die historiese dorp staan bekend en word beskryf as die ingangspoort na die Klein Karoo.

De Rust het die ander twee Wes-Kaap finaliste naamlik George en Onrus uitgestof om deur te dring na die finale rondte.

Die Hoorn en verskeie besigheidseienaars en instansies is baie trots op hierdie prestasie en ter ondersteuning aan De Rust het hulle bymekaar gekom om ’n spesiale bylaag in hierdie week se koerant vir De Rust te plaas.

Wense van geluk, voorspoed en redes waarom dié dorp verdien om te wen het ingestroom.

Daar kan vanaf 14 Junie 2024 om 19:00 tot 19 Julie 2024 om 12:00 vir die algehele wenner gestem word.

Die wendorp sal op 28 Julie op Kwêla aan-gekondig word, so hou solank daardie selfoon nader en spaar die nommer 33157 op jou foon om te begin stem, sodra die stemlyn oopgemaak word.
Sms’e kos R1,50 elk.

Die wendorp van 2024 wen ’n bemarkingspakket van R1miljoen by kykNET, wat ’n 45 sekonde advertensie oor die dorp insluit en tydens die vakansietyd uitgesaai gaan word.

Daar sal ook ’n feesviering en musiekonsert op die wendorp gehou word.

Lottoland het ook R1miljoen bewillig, wat gebruik sal word vir die dorp. ’n Besigheidsplan met begroting sal ingedien word deur elke finalisdorp oor hoe hulle die geld sal spandeer.

Die geld sal ook deeglik geoudit word om te verseker dat dit vir die spesifieke doelwit gebruik word.

Wat maak De Rust so spesiaal:
Die bekende en kronkelende Meiringspoort is een van die roetes met die mooiste natuurskoon net voor die dorp.

Die poort strek oor 20 km, met 27 driwwe, elkeen met ’n unieke naam en storie, wat gekruis word wanneer daar deur die poort gery word.

Daar is ook die misterieuse varswater meermin, wat in die poele in die poort leef en aan mense se bene trek wanneer hulle, veral in die poel by die waterval, swem.

Die legende lui dat haar Khoi naam Eporia is. Daar word verder vertel dat wanneer sy kwaad is, is die rivier in vloed en spoel van die driwwe oor en keer motoriste vas.

Wanneer sy hartseer is, dan heers daar ’n droogte en die waterval droog op. En soms as sy gelukkig is, en reën sak oor die poort, dan sing die rivier saam met haar.

CJ Langenhoven het ook ’n klip in die poort gegraveer waarop die woord “Herrie” staan, en is verwys na een van sy stories waarop Herrie die olifant ’n trem deur die poort getrek het.

Die dorpie het sy eie eeue-oue geskiedenis, met argitektuur wat uit die vroeë 1900’s dateer.

Die meeste van hierdie geboue, gebou met modderbakstene of sandsteen en met dik mure en hoë plafonne, is reeds ouer as 120 jaar. Die ou geboue wat gedenkwaardighede is, val onder die beskerming van Heritage Oudtshoorn Erfenis.

Daar is ook heerlike daguitstappies in en om De Rust soos De Rustica, met hul wêreldberoemde olyfolie gemaak van die beste gehalte olywe te wêreld. Dit is nie net een van die mooiste plase nie, maar bied ook ’n groot verskeidenheid olyfprodukte vir enige fynproewer aan.

Hotel De Rust is ook ’n besienswaardigheid en het onlangs weer sy deure oopgemaak.

Die hotel is vasgevang in die geskiedenis van die 50’s. En na 30 jaar is die hotel weer die middelpunt van die dorp.

Herries is onlangs heropen en dié winkel was nog altyd sinoniem met De Rust. Hulle bied ter viering ’n spesiale aanbod op steak, eier en chips. Besoek hul gerus en beleef die nuwe vars voorkoms van die winkel.

Daar is ook die lekkerste lekkernye by oom Swepie Le Roux se padstal, Doornkraal, wat produkte en wyn van die kontrei verkoop. Kyk gerus uit vir hierdie oulike padstal met die woorde “Spaar water, drink wyn” op die bord.

Die pienk olifant voor die R62 Wynwinkel met kolle op sy lyf kan nie misgekyk word nie. Hier is nie net die beste wyne te koop nie, maar ook allerlei lekkernye en vars produkte wat plaaslik met liefde gemaak word.

By Karoo Rouge is daar ’n reenboog vellie rak, elke kleur denkbaar is hier te koop, lekker wol pantoffels vir die yskoue karoo oggende om jou tone warm te hou, asook vars gebak, stomende boeretroos, en ook die kunswerke van een van Suid-Afrika se bekenste kunstenaars, Porchie.

Wie kan natuurlik die oulike en unieke De Rust Koktyls kalender vergeet, ’n eerste vir die dorpie wat die hele land aan die praat gehad het, toe 13 brawe De Rusters, smaakvol in hul geboortepakkies vir kiekies gestaan het. Die meesterbrein agter die inisiatief was Maryna Cotton en Sarel van Staden, en geld wat deur die verkope gegenereer word, gaan vir verskeie inisiatiewe en gemeenskap projekte.

Daar is nie ’n tekort aan besienswaardighede in en om De Rust nie, spring in jou motor en vat die pad, die Oudemuragie-pad, die Vergelegen-pad en die Swartberg-sirkelroete is maar net ’n handvol van wat besoekers kan geniet.

Daar is soveel oulike en besienswaardighede hier, dat daar daadwerklik ’n boek oor De Rust – die dorp van rus, geskryf kan word.

Kom ervaar dit vir jouself, bring jou gesin en maak seker om jou stem te stuur, wanneer die kompetisie oopmaak vir die finaal. Geluk,

De Rust, julle verdien die nominasie.