Meiringspoort is bekend vir sy baie driwwe.
Die driwwe het gereeld verspoel en van plek verander.
Soos CJ Langenhoven skryf in sy boek Sonde met die bure:”nou is in elke drif ’n draai en om elke draai ’n drif.”
Die driwwe is vervang met laagwaterbrûe.
By elke bruggie is die drif se naam aangebring. Hier volg die name vanaf De Rust, die suidelike ingang:
- Spookdrif: ’n Bonatuurlike lig in die vorm van ‘n bal is hier gesien.
- Skasdrif: Skansmure is in die rivier gebou om verspoelings te voorkom
- Damdrif: Hier is ’n groot watergat stroomop.
- Kantoordrif: Op die ou pad was kantoordrif waar baie botsings plaasgevind het en verskeie hofsake het gevolg.
- Boesmandrif: Klipskeure waar Boesmans (San) gewoon het.
- Skelmkloofdrif: Oos lê ’n groot verskuilde kloof waar water teen die rotswand na die Groot Rivier afsypel. Volgens legende het skelms hier gewoon wat Petrus Meiring se merinoskape gesteel het.
- Aalwynsdrif: Pragtige bergalwyne teen die hange.
- Nooiensboomdrif: 2 groot kiepersolbome (nooiensbome) het weerskante van pad gegroei met takke inmekaar gestrengel.
- Steweldrif: Petrus Meiring se wadrywer se stewels het hier weggespoel en hy moes terug huis toe vir ander stewels.
- Dubbeldrif: Hierdie drif het verdwyn met die bou van teerpad. Die pad is met 5 m verhoog. Die naam is nou Dubbeldrifdraai.
- Perskeboomdrif: Daar was ’n paar perskebome, waarskynlik ’n paar pitte wat deur reisigers daar weggegooi is.
- Sanddrif: Hier was sandbanke wat dikwels opdamming veroorsaak het. In 1948 is die eerste laagwaterbrug hier gebou.
- Herrie se drif of Nagasdrif: Eers Nagasdrif genoem na ’n stamhoof van ’n Boesmangroep wat daar naby gewoon het, maar na 1929 toe Herrie se naam op die klip uitgekerf is, het die naam verander na Herrie se drif.
- Witperdedrif of Rabbi se drif: ’n Rabbi het hier op ’n tyd met sy kar en perde weggespoel.
- Ou Toldrif: Hier was ’n ou tolhuis
- Wadrif: Baie waens het hier weggespoel.
- Witfonteindrif (Withuisiedrif): ’n Sterk standhoudende stroom kristalhelder water het sy oorsprong aan die westekant van die drif. Daar is ook ’n poel met ’n sementvloer naby die teerpad en klein pomphuisie. In die 1990’s was dit bekend as Buswatertjie want die busse het hier gestop vir water.
- Uitspandrif: Hier was plek om ’n span osse uit te span.
- Watervaldrif: Daar is ’n naby geleë waterval. Na hierdie drif kry ons Langstraat, vir 2,9 km is daar geen rivierkruisings nie.
- Ontploffingsdrif: ’n Wa vol dinamiet het so vinnig oor die stamperige boerpad gery dat die dinamiet spontaan ontplof het.
- Toldrif (Derde Toldrif): Die murasies van die tolhuis is nog sigbaar. Die tweede tolhuis is verwoes met die bou van die nuwe pad.
- Rooiuitspanning se drif: Die rooi kleur van grond gee aanleiding tot die naam van die drif en die feit dat daar plek was om ’n paar waens uit te span. Dit is ook die einde van Langstraat.
- Pereboomdrif: By die Perdeskoendraai was ’n baie groot saffierpeerboom.
Dit was ’n gewilde vergader-en uitspanplek. Langs die pad het 2 oujongnooiens in ’n huis gewoon. Toe een sterf, is sy in die eetkamer begrawe. Niemand weet wat van die ander dame geword het nie - Bloupuntdrif (Wasvatdrif, Wasgatdrif): Vernoem na die aangrensende plaas Bloupunt, wie se afdraai net voor die drif is. Waens het hier dikwels vasgesit in die los gruis.
Hier is diep poele waar gate gevul kon word en die Karoostof afgewas kon word. - Valsdrif: Hier is maklik vasgeval in los gruis of diep sand.
- Opmetingsdrif: In 1912 is hier opmetings gedoen vir die moontlike bou van ’n dam in die smalste deel van die kloof.
- Laaste drif of Eerste drif: Hang af van watter kant jy in Meiringspoort inry.
Bron: www.derustheritage.org.za & Oudtshoorn en De Rust Toerisme.