DIE feit dat Wilfred Byl (73) en Petronella Jaars van Kerkplaas, Ladismith nog leef, kan as ’n genadekans vir dié twee bejaardes beskryf word .
’n Gedeelte van die huis waarin Byl en Jaars woon, het gedurende die onlangse reënweer feitlik op hulle ineengestort.
Die huise behoort aan die plaaslike Lutherse Kerk en staan al jare op Kerkplaas.
Byl vertel: “Ons het in die kombuis gesit terwyl dit saggies buite gereën het. Skielik het ek gesien hoe die moddertjies by die muur begin afskuif het. Toe sê ek sy moet net so wegskuif. Die volgende oomblik toe sak die muur inmekaar en val die muur gelukkig buitentoe. Dis net my enkel wat seergekry het.”
Jonathan Jantjies, gemeenskapsleier en wykskomiteelid vertel: “Ek was baie geskok, maar ook dankbaar dat oom Wilfred nie erger seergekry het nie.
“Die antie het niks oorgekom nie. Ons het die ambulans ontbied sodat daar gemoedsrus oor hul fisieke sowel as emosionele welstand verkry kon word.”
Jantjies is vas van plan om te help om Byl en Jaars se blyplek weer vir hulle leefbaar te maak.
“Enige donasie – sand, stene, sement of ’n geldelike bydrae sal help. Daar word ook ’n sangaand gehou om te help fondse in, noem Jantjies aan die koerant.
Byl en Jaars woon tans tydelik in ’n plekkie wat die kerk aan hulle beskikbaar gestel het. (Deur Deon Meyer)
Bejaarde se noue ontkoming
Petronella Jaars by die huis wat op Kerkplaas ineengestort het.