Rekeninge van 89 besighede reeds reggestel
Deur Liesel le Roux
DIE eienaar van Rosenhof Country Estate op Oudtshoorn, Nic Barrow, het amptelik by die munisipaliteit aansoek gedoen om toegang tot inligting van die afgelope 12 jaar nadat die elek- trisiteitsrekening van Rosenhof van R33 526 in Junie 2018 na R113 721 in Julie 2018 gestyg het.
Barrow sê hy het op die voorgeskrewe vorm – ingevolge Afdeling 53(1) van Wet 2 van 2000 oor die toegang tot inligting – aansoek gedoen vir alle korrespondensie en dokumentasie tussen die munisipaliteit en Nersa oor die verhoging of verlagings van elektrisiteitstariewe sedert 2006.
Hy vra ook vir alle koerantadvertensies oor dié tariewe, asook alle voorleggings, besprekings en uitslae van raads- en komiteevergaderings oor elektrisiteitstariewe asook besonderhede van enige openbare deelnameprosesse oor dié tydperk.
Barrow het aan Die Hoorn gesê hy het geen ander keuse ná dié tariefstyging nie en dat inwoners geregtig is om te weet hoe dit moontlik is.
“As die nodige dokumente nie verskaf word nie, sal ek ’n hofaansoek bring met koste teen amptenare of raadslede wat sonder geldige redes weier om die nodige te doen.”
• Die munisipaliteit het in reaksie hierop aangedui dat ’n fout op die Julie 2018-rekeninge van 89 besighede opgespoor en reeds op hul stelsel reg-gestel is. Rosenhof was een van dié besighede. Die korrekte bedrag betaalbaar is R54 292.
Die munisipaliteit het verskoning gevra vir die fout, maar inwoners gevra om die rekeninge-afdeling te kontak met navrae.
Volgens hulle is geen navraag van Barrow ontvang nie.
Die munisipaliteit het nie aangedui of Barrow se amptelike aansoek vir inligting ontvang is nie.