Bakkieruit gebreek in Hoogstraat

Deur Ilze-Mari Gründling
STRAATKINDERS het vermoedelik Dinsdagmiddag die agterruit van George en Marianne Dall van Oudtshoorn se bakkie gebreek terwyl hulle besig was om inkopies te doen. George bedryf ’n koeriersbesigheid tussen Oudtshoorn en Kaapstad.

Volgens Marianne het sy en haar man in Hoogstraat by Checkers geparkeer toe ’n groep kinders op hulle afstorm.

“Hulle het vir ons gevra of hulle die bakkie kan oppas. My man het nee gesê en ons het Checkers binnegegaan. Nie lank daarna nie kom ons by die betaalpunt – ons het net ’n paar goedjies gehad – toe roep hulle ons registrasienommer oor die interkom. Toe ons buite kom, was een van die ruite heeltemal stukkend gekraak.”

Dall vertel dat daar omtrent 12 personeellede van Checkers buite gestaan het, maar nie een van hulle het iets gesien nie.

“Ons weet ook nie of dit ’n sekuriteitswag was wat Checkers se mense laat weet het van die ruit nie.”
Sy vertel dat hulle nie kans gehad het om die ruit te vervang nie – juis omdat besighede 17:00 toemaak. Gister kon hulle dit ook nie doen nie omdat George al 05:00 Kaap toe gery het.
“Ons het dit maar tydelik toegeplak. Die kinders het gedink dat ons nie van Oudtshoorn is nie. Die bakkie het ’n CA-nommerplaat, en hulle het seker gedink ons sal hulle nie kan opspoor nie.”
Volgens Dall het hulle nie ’n saak by die polisie ingedien nie omdat die kinders nie in hegtenis geneem word nie.

“Die beste opsie is maar om nie weer daar inkopies te doen nie. Wat staan ’n mens te doen?”