Bo: Marilize Nortier (18) wat Saterdag in ’n motorongeluk in Schoemanshoek gesterf het. Foto Facebook
Onder: Die wrak van die BMW waarin Marilize
se liggaam gevind is. Foto verskaf

Deur Die Hoorn-verslagspan
DIE liggaam van Marilize Nortier (18), matriekleerder van Langenhoven Gimnasium op Oudtshoorn, is Saterdag waarskynlik eers ure nadat sy gesterf het in die wrak van ’n BMW in ’n kanaal langs die Kango Grotte-pad buite die dorp gevind.
Hoewel die ongeluk volgens ingeligte bronne Sondagoggend vermoedelik reeds tussen 03:00 en 04:00 plaasgevind het, is die Oudtshoorn Nooddienste eers ná 07:42 na die toneel ontbied – sowat 10 km buite Oudtshoorn – nadat plaaswerkers die motor gesien het waar dit op sy passasierskant onder in die kanaal vol water gelê het.
Toe die motor uit die water getrek is, is Marilize steeds vasgegordel in die voorste passasiersitplek, gevind.
Volgens kapt Louis Visser, woordvoerder van die Oudtshoorn Polisie, is die oorsaak van die ongeluk nog onbekend. Die Polisie ondersoek ’n saak van strafbare manslag.
Visser het gesê daar is nog nie ’n finale uitslag oor die oorsaak van Marilize se dood nie. Dit is dus nog nie bekend of sy aan beserings weens die ongeluk gesterf het of verdrink het nie.
Volgens Visser is die bestuurder van die motor Sondag met beserings in die Mediclinic George opgeneem. Die bestuurder, volgens ’n betroubare bron Sidney Berry, was op die toneel van die ongeluk toe die nooddienste daar opdaag nadat hy glo vroeër die ongelukstoneel verlaat het om sy ouers te gaan bel.
Marilize se ouma, Christine Nortier, het gister aan Die Hoorn gesê daar is tans meer vrae as antwoorde oor die ongeluk. Volgens Nortier sou haar kleindogter Saterdagaand by ’n vriendin gaan slaap het en hoop die familie om antwoorde op al hul vrae te kry.
“Sy was ’n pragtige kind – nederig, altyd met ’n glimlag op die gesig.”
Sy het gesê die familie kry baie swaar, maar is terselfdertyd oorweldig deur die ondersteuning van die mense van die dorp.
Marilize se dood het die week inderdaad skokgolwe deur die dorp gestuur. Boodskappe van medelye het sedert die ongeluk ingestroom na Die Hoorn se Facebook-bladsy.
Die skool het die volgende boodskap op hul Facebook-bladsy geplaas: “Ons sal Marilize onthou as ’n trotse Gimmie wat met haar mooi glimlag en vriendelikheid elkeen se dag opgehelder het. Sy was ’n leerder met ’n sagte hart wat altyd met groot respek teenoor haar onderwysers en maats opgetree het.
Haar bereidwilligheid om altyd iemand anders te help en die mooi in elke situasie raak te sien, het haar ’n besonderse leerder gemaak.”
’n Verdere Facebook-bladsy, Truth4Marelize, is deur ’n familielid op die been gebring om inligting oor gebeure rondom die ongeluk te probeer inwin. Daar word onder meer gevra vir inligting oor die bewegings van Marilize en ’n groep vriende nadat hulle ’n kuierplek ná 02:00 verlaat het.
Marilize is die dogter van Morné Nortier, ’n oud-onderwyser van Langenhoven Gimnasium, en Suné Nortier wat werksaam is by ’n dokterspraktyk op Oudtshoorn.
• Die roudiens vir Marilize vind Dinsdag om 13:00 plaas in die NG Kerk Welgeluk op Oudtshoorn.