Arbeidsgenot vier Afrikaans se 1ste eeu

Arbeidsgenot, die woning van CJ Langenhoven op Oudtshoorn. Foto: Hannes Visser

As alles volgens plan verloop kan inwoners van Oudtshoorn die eeufeesviering van Afrikaans as amptelike landstaal op 8 Mei by Arbeidsgenot kom vier.

C.J. Langenhoven se stryd om Afrikaans as amptelike taal naas Engels te laat verklaar is op 8 Mei 1925 deur die destydse parlement goedgekeur. Verskeie instansies sowel as RSG is tans hard besig met programme om die geskiedkundige dag te herdenk.

Terwyl groot dinge by die Taalmonument beplan word, is dit net gepas dat dié dag ook by Langenhoven se huis in Oudtshoorn herdenk word.

Verlede Saterdag, 5 April, is die Arbeidsgenotkomitee weer in die lewe geroep nadat die vorige komitee met die verloop van tyd verdwyn het. Tydens ʼn vergadering met direksielede van die Langenhoven Gedenkfonds onder wie se be- skerming Arbeidsgenot bestuur word, is sewe inwoners op die komitee verkies. Die komitee is ʼn verlengstuk van die Langenhoven- gedenkfonds.

Hulle langtermyndoelstelling is om as plaaslike liggaam vir Arbeids-genot weer deel van die kulturele en sosiale lewe in Oudtshoorn te maak en ook om Arbeidsgenot weer as toeristebestemming te vestig. Die komitee se onmiddelike taak is om ʼn program te reël wat op 8 Mei by Arbeidsgenot aangebied sal word. Die komitee het Maandagaand, 7 April, hulle eerste vergadering gehou om projekte te identifiseer vir 8 Mei.

Die huidige komiteelede is: Peet Vermaak, Suzette Basson, Carl Coetzer, Christo Smit, Liezl McDuling, Hannes Visser en Ilse Meyer.

Hulle voostelle word hierdie week aan die direksie van die Langenhovengedenkfonds voorgelê vir goedkeuring waarna daar volstoom aan die werk gespring sal word. Een van die projekte is byvoorbeeld om weer katjiepieringstruike voor die stoep van Arbeidsgenot te plant.

Toe Langenhoven op 8 Mei 1925 die tyding in Kaapstad ontvang dat Afrikaans as amptelike taal erken word, het hy vir Vroutjie (Me. Langenhoven) gekry waar sy in die Tuine in Kaapstad vir hom gewag het.

Toe hy opgewonde vertel dat Afrikaans amptelik erken word, het sy daar en dan ‘n steggie van ‘n katjiepiering afgepluk en dit in Oudtshoorn voor die stoep van Arbeidsgenot geplant en versorg. Dié struik is intussen dood en daar word beplan om op 8 Mei twee nuwes te plant.

Die hele program sal binne die volgende twee weke in die media bekendgemaak word. (HANNES VISSER)

Be the first to comment on "Arbeidsgenot vier Afrikaans se 1ste eeu"

Leave a comment

Your email address will not be published.


*