April bly in aanhouding en moet wag tot 19 April vir aansoek om verlof tot appèl

Gordon April.

Gordon April.

Deur Garnett Wicomb

Die voormalige burgemeester van Oudtshoorn, Gordon April, sal tot 19 April agter tralies bly nadat sy aansoek om verlof om teen sy skuldigbevinding en vonnis te appelleer tot dan uitgestel is.
April wat skuldig bevind is aan diefstal van sand en klip van die munisipaliteit, die onwettige gebruik van munisipale voertuie, intimidasie en poging tot regsverydeling, is Woensdag in die Oudtshoorn Streekhof tot nege jaar gevangenisstraf gevonnis. Hy sal effektief slegs vyf jaar uitdien.
Streeklanddros Mark van Wyngaardt het vanoggend (Vrydag) gesê hy wil niemend benadeel en ‘n oorhaastige besluit ten opsigte van die aansoek neem nie.
Christo van der Bergh het vanoggend namens April se regsverteenwoordiger, Vaughn Shone, die aansoek gebring waarin die mening uitgespreek word dat ‘n ander hof moontlik tot ‘n ander bevinding kan kom.
Die staatsaanklaer, Tommy Verreyne, het die aansoek teengestaan. Volgens hom is daar geen kans dat die skuldigbevinding as foutief bevind kan word nie. Hy het gesê dat direkte gevangenisstraf die enigste gepaste vonnis vir ‘n ernstige misdryf soos poging tot regsverydeling kan wees.
“Die applikant moet deeglik kan bewys dat hy ‘n realistiese kans het,” het Verreyne gesê.
“Die hof sit met die situasie dat die applikant op ernstige aanklagte skuldig bevind is en ‘n aansoek om te appelleer kan vir hom ernstige gevolge inhou. Ek weet hy wil graag uitkom, maar die hof moet baie versigtig wees en ek wil nie die beskuldigde enigsins benadeel nie,” het die landdros gesê.
“Mnr April moenie my kwalik neem nie, maar ek kan nie nou uitspraak lewer nie. En dan moet borgtog ook nog toegestaan word of nie.”
“Ek is baie jammer,” het die landdros gesê en die saak vir ‘n beslissing tot 19 April uitgestel.
April is Woensdag een jaar tronkstraf opgelê vir twee aanklagte vir diefstal van sand en klip en drie vir die onwettige gebruik van munisipale voertuie, twee jaar vir intimidasie en ses jaar, waarvan twee jaar opgeskort is, vir poging tot regsverydeling.
Laasgenoemde twee vonnisse kan samelopend uitgedien word wat effektief beteken dat April vyf jaar gevangenisstraf sal moet uitdien.