6 van Calitzdorp in April verhoor

Deur Garnett Wicomb
DIE verhoor van ses mans van Calitzdorp wat aangekla word van roof met verswarende omstandighede, aanranding en menseroof, en een ook van poging tot verkragting is in die streekhof op Oudtshoorn uitgestel na die ontrekking van drie se regsverteenwoordiger.

Donovan Wagenaar (30), Adrian Jansen (23), Nathan Grootboom (25), Ruiter Kamoetie (45), Renaldo Jelander (30) en Jeraad Meshoa (33), word daarvan aangekla dat hulle op 3 Januarie 2016 vir Petrus Pieterse met kapmesse gedreig of geslaan het en van R5 080 kontant, twee selfone en 30 bottels bier beroof het.

Voorts word hulle daarvan aangekla dat hulle die 37-jarige Gerhard Jelander aangerand en die 54-jarige Coenraad Snyman in sy motor gedwing en forseer het om hulle met sy motor te vervoer.

Die saak is na die dood van streeklanddros Mark van Wyngaardt in 2017 as nuwe saak op die hofrol geplaas en daarna verskeie kere uitgestel voordat ’n verhoordatum uiteindelik in Oktober verlede jaar vir 7 en 8 Maart 2019 vasgestel is.

Die staatsaanklaer, Hyron Goulding, het die hof verlede week meegedeel dat die beskuldigdes sowel as die vier staatsgetuies ongelukkig is oor die vertraging maar dat dit onvermydelik is. Vier van die beskul-digdes is ook reeds langer as drie jaar in aanhouding.

Adv Stoffel Prinsloo, regsverteenwoordiger van Wagenaar, Jelander en Meshoa het hom aan die saak onttrek weens sy betrokkenheid by die Preston Titus-moordsaak in die rondgaande hooggeregshof.

Hulle moet dus nou weer ge-leentheid kry om regs-hulp te vind.

Streeklanddros Retha Pretorius het die saak vir verhoor tot 17 April 2019 uitgestel.