’N MAN van Oudtshoorn wat aan roof met verswarende omstandighede en die aanranding van ’n polisiebeampte skuldig bevind is, is in die Oudtshoorn Streekhof vir ses jaar tronk toe gestuur.
Vincent Koelman (31) is daarvan aangekla dat hy op 19 Januarie vanjaar in Langenhovenweg by die woning van Bradley James ingebreek, hom met ’n mes gedreig en beroof het van ’n kleresak met nuwe onderbroeke en kouse, asook dat hy in besit was van toerusting wat gebruik word om by motorvoertuie in te breek. Hy is ook skuldig bevind aan aanranding deurdat hy probeer het om ’n polisiebeampte met ’n mes te steek.
Sers Jonathan Rabie het getuig dat hulle die klaer in Langenhovenweg gekry en hy ’n beskrywing van Koelman se kleredrag aan hulle verskaf het.
Die beskuldigde is kort daarna in Dassieweg opgemerk en het weggehardloop toe die vangwa by hom stilhou. Hy is agtervolg en in ’n buitekamer in Leeubekkieweg vasgetrek waar hy een van die polisiebeamptes, konst Shaun Isaks, met ’n mes wou steek.
Koelman het beweer dat een van die polisiebeamptes ’n vuurwapen in sy mond gedruk en hy deur die polisie en die klaer by die polisiekantoor aangerand is. Hy het gesê hy was nie die betrokke dag in Langenhovenweg nie omdat dit gereën het.
Sy getuienis asook dié van ’n vriend is deur streeklanddros Ntsoki Moni verwerp. Koelman is op die klagte van roof met verswarende omstandighede gevonnis tot vier jaar gevangenisstraf en op die klagte van aanranding tot twee jaar. Hy is onskuldig bevind op die klagte dat hy in besit was van gereedskap en handskoene met die doel om ’n misdaad te pleeg. (Deur Garnett Wicomb)