“EK kom vandag net om dankie te sê. Ek het God belowe dat indien Hy my sou genees, ek openlik sal getuig van sy wonderdade.”
Dit was die woorde van die president van ICOSA en voormalige burgemeester van Ladismith, Jeffrey Donson, Sondag (18 Oktober) tydens ’n opelug-dankseggingsdiens wat in Nissenville, Ladismith plaasgevind het.
Sowat 200 mense het hulle in die lui somersonnetjie langs ’n plaaslike winkel tuisgemaak.
Donson is vroeër vir Covid-19 in ’n privaathospitaal op George behandel.
Die diens is deur plaaslike predikers gelei, terwyl Petrus Roodtman, ook ’n voormalige politikus ’n hartroerende weergawe van die lied He touched me gelewer het.
Toe het die ICOSA-President aan die woord gekom. Donson het verwys na ’n berig in Die Hoorn van 3 September 2020 met die opskrif ‘Ek is God se witbroodjie’ en bygevoeg dat hy ’n sterk geloof in sy Skepper het en ’n lewende getuie vir Hom wil wees.
“Ek was drie dae in ’n geïnduseerde koma, maar ek weet dat ek in hierdie tyd met God gepraat het.
“My gesin was oor my bekommerd, my gemeenskap was oor my bekommerd… Ek het by God gepleit om my deur te dra,” het Donson onder dawerende applous gesê.
Hy het die hele Kannaland bedank vir hul gebede. Toe het Donson die gemeenskap ernstig versoek om vir mekaar te bid, ongeag verskille, en in harmonie met mekaar te leef.
“Mense Covid-19 is nie speletjies nie. Dra julle maskers, ontsmet julle hande, moenie jul God uittart nie.”
Die oud-burgemeester het voortgegaan: “Ek kom vandag terug na my God toe, soos die een van die tien melaatses wat genees is, en ek kom erken my God se Hand in my genesing.”
Donson het dit egter ook duidelik laat blyk dat hy gesond genoeg is om sy politieke loopbaan te hervat.
“Ek sal in komende Woensdag se raadsvergadering ’n hand van samewerking na my politieke opponente toe uitreik sodat ons net tot voordeel van die hele Kannaland kan saamwerk.”
Dit wil voorkom asof die stryd met Covid-19 dié geharde politikus ’n meer versoenende mens gemaak het. Dit sal egter net deur sy opposisie bevestig kan word. (Deur Deon Meyer)