Bo is die ongelukstoneel Dinsdag toe ’n motor teen ’n vragmotor wat wou draai, gebots het. Onder kan gesien word waar die motor die dieseltenk van die vragmotor getref het. Heelonder word die diesel wat in Randstraat afgeloop het, word, opgeruim.


Deur Angelique Erasmus
SOWAT 300 liter diesel het Dinsdag op die hoek van Voortrekkerweg en Randstraat op die pad uitgeloop nadat ’n dubbelbak-vragmotor en ’n motor kort ná 13:00 gebots het. ’n Tweede motor wat vir die botsing uitgeswaai het, is beskadig toe dit oor die sypaadjie se randsteen gery het
Volgens kapt Louis Visser van die Oudtshoorn Polisie het al drie die betrokke voertuie met Voor-trekkerweg vanaf Bridgton se kant dorp toe gery.
Die vragmotor het sy flikkerlig aangesit om links in Randstraat in te draai, maar oorbeweeg na die regterkantste baan sodat hy wyd genoeg kon draai om in Randstraat in te kom.
In die proses het ’n Toyota wat in die linkerbaan was, na bewering teen die vragmotor vasgery, terwyl die tweede motor, ’n Honda, teen die sypaadjie vasgery het.
Met die trefslag het die Toyota die vragmotor se dieseltenk beskadig en het die diesel in die pad begin uitgeloop.
Mornay Thysse van die Oudtshoorn Brandweer het op die toneel aangedui dat hulle wag vir dring-ende hulp van die Eden
Brandweer wat die regte toerusting het om diesel van die padoppervlak te verwyder.
Diesel beskadig die teeroppervlak en dit moet so gou moontlik op die korrekte manier van die teeroppervlak verwyder word, het hy gesê.
Volgens Deon Stoffels van Eden Brandweer wat op die toneel was, gebruik hulle twee produkte wat vir ’n tydperk op die padoppervlak gelos word om die diesel af te breek.
Daarna word dit opgevee en die pad skoongespuit en geskrop.
• Die bestuurder van die Toyota is per ambulans hospitaal toe geneem waar hy vir ligte beserings behandel is.