30 jaar al die Klein Karoo se held

Mornay Thysse.


Deur Angelique Erasmus
HY is reddingswerker, brandweerman en slangvanger. Wanneer jou nood groot is, daar ’n brand of botsing is, of ’n slang verby jou seil, is Mornay Thysse van die Oudtshoorn Brandweer die man om te bel in nood.

Dié pa van drie en oupa van vyf is op bykans elke toneel van nood in die streek en was al talle se reddingsboei.
Of die nood groot of klein is, Thysse is altyd daar.

Maar mense is nie die enigstes wat hy red nie. Hy help ook katte vanaf pale of uit bome, honde uit kanale, perde uit gate, papegaaie uit hemelhoë bome, en beeste, likkewane en ystervarke. Tot ’n duikertjie is al deur sy hande.

Gister het dié man van staal sy 30ste jaar in diens van Oudtshoorn en die omliggende streek gevier.
Thysse, wat in 1968 gebore is, het op die brose ouderdom van 20 jaar by die munisipaliteit begin werk. Hy was destyds ’n registrasieklerk. Drie jaar later het hy by die Brandweer aangesluit.

“Ons het as kinders by ’n vriend se pa wat by die waterwerke gewerk het en ’n deeltydse brand­weerman was, gaan kuier. Daar was dit vir ons groot pret om die ligte en sirenes aan te sit.”

Met sy amptelike aansluiting by die Brandweer in 1991, was dit vir hom ’n nostalgiese ervaring om dieselfde voertuie waar hy as kind gespeel het, te gebruik.

“Die een was ’n Chev en die ander ’n Ford,” ont­hou Thysse.
Hy vang ook reeds die afgelope 18 jaar slange op Oudtshoorn, en het altyd sy slangtang in sy ­voertuig vir wanneer die oproep kom.
Op ’n vraag oor sy beste en lekkerste oomblik in sy werk, antwoord Thysse: “Wanneer dit winter is, is ek gewoonlik op bystand. Dit is altyd vir my vreeslik lekker om na die Swartberge te gaan wanneer dit geneeu het. Natuurlik gaan hierdie besoek gewoonlik gepaard met motors wat in die sneeu vassit! Ek moet dan die karre uitsleep. Dit gee my egter die kans om ook die Swartberge te besoek en die sneeu te sien.”

Op ’n ernstiger nood oor wat sy mees angs­wekkende oomblik was, antwoord hy dat hy met ’n aardbewing in Oktober 2016 in die Oudtshoorn-omgewing genoodsaak was om saam met Deon Saayman die Kango Grotte in te gaan om te kyk vir krake of verskuiwings.

“Die gidse self was nie bereid om in te gaan nie. Daar was ook nie veel tyd vir voorbereiding nie en het ek nie eers water by my gehad nie. Die gedagte was heeltyd in my kop dat daar dalk ’n tweede aardbewing of naskok kan kom wat ons in die grotte kan vaskeer. Gelukkig was daar geen groot skade nie, net ’n paar stalagtiete wat afgebreek en geval het.”
Thysse sê sy mees ongewone redding was die van ’n vrou wat op Nuwejaarsdag in 2007 nege ure lank in die sogenaamde Liefdestonnel in die Kango Grotte vasgesit het.

“Ek kon my ore nie glo toe ek dit hoor nie. Die oproep het kort na 12:00 ingekom en ek het dadelik soontoe gery. Daar was ongeveer 22 mense aan die ander kant van die vrou vasgekeer, insluitend ’n vyfjarige kind wat aan asma gely het.
“Ons het deurentyd die mense probeer kalm hou en kon daarin slaag om haar met behulp van ’n bergklimtou opgelig te kry en uit te trek.

“Sy moes die hele pad tot by die ingang gedra word. Dit was vir my verbasend om te sien dat dit intussen nag geword het.”
Hy sê die hele operasie het sowat nege ure geduur.

“Dis altyd vir my harteer as ek op ’n toneel kom en daar is mense oorlede. Ek probeer pasiënte rustig hou. Soms moet mens vir mense vertel dat ’n geliefde okei is, al is die persoon reeds oorlede. Ek hanteer oorledendes met respek – asof hulle steeds lewe – want dit is iemand se geliefde.”

Thysse se passie vir sy werk maak hom een van die mees gerespekteerde reddingswerkers in ons streek.
Murray-wayne Konnie, hoof van rampbestuur, sê: “Mornay het nog altyd alles gegee, en gee daagliks steeds sy alles vir sy werk en medemens. Hy is ’n absolute steunpilaar vir ons en die ge­meenskap en ons wil graag ons dank teenoor hom uitspreek vir sy 30 jaar van diens en opofferings.”

Thysse vertel: “Elke keer voordat ek in my reddingsvoertuig klim en na ’n toneel ry, soen ek my vrou, Lucinda. Enige iets kan gebeur. Dis kan enige tyd die laaste keer wees.

“Ons maak ’n goeie span, en sy verstaan dat my werk die verskil tussen iemand se lewe of dood beteken.”

Die Thysses is reeds 26 jaar getroud.