’N SEWENTIENJARIGE leerder van die Hoërskool Zwartberg op Prins Albert is verlede Donderdag in hegtenis geneem nadat hy ’n mede-leerder op die skoolterrein aangeval en verskeie messteke toegedien het.
Die agttienjarige slagoffer, in graad 11, is in die plaaslike hospitaal opgeneem en die vermeende oortreder – in graad 9 – is, ná assessering deur die polisie, in die sorg van sy ouers vrygelaat tot met sy hofverskyning binnekort op ’n aanklag van aanranding met die doel om ernstig te beseer, het kaptein Malcolm Pojie, ’n polisiewoordvoerder, by navraag gesê.
Volgens hom het die voorval om omtrent 09:50 plaasgevind.
“Vanweë die ouderdom van die betrokkenes kan hul name nié in die stadium bekend gemaak word nie.”
Die skoolhoof, Ricky McKnight, het die voorval bevestig.
Kinders wat die voorval sien gebeur het, vertel die slagoffer het glo tydens pouse per ongeluk teen die vermeende oortreder vasgeloop, waarna laasgenoemde ’n mes uitgepluk het.
Hy het die graadelf toe glo van agter af aan die kraag beetgekry en hom woes met die mes bygedam.
“Dit het gelyk of hy sewe of agt keer gesteek is,” het ’n leerder aan Die Hoorn gesê,
’n Ouer vertel die messteke was teen die slagoffer se voorkop, agter die rug – naby die niere, asook op sy arms en hande soos hy die aanval probeer afweer het.
Volgens McKnight het die skool onmiddellik die polisie van die voorval in kennis gestel en ’n ambulans laat kom om die slagoffer na die plaaslike hospitaal te neem.
“Die polisie het die vermeende oortreder van die skoolterrein verwyder.
“Streng voorskrifte van die Wes-Kaapse Onderwysdepartement (WKOD) moet in gevalle van geweld toegepas word.
“Die skool het die WKOD van die voorval in kennis gestel. Die vermeende oortreder is intussen uit die skool geskors hangende ’n verhoor deur die skoolbeheerliggaam Donderdag (6 Februarie 2020).
“Hierna sal die beheerliggaam aanbevelings oor hom doen. Die skool het niks met die SAPD-proses te doen nie. Ons volg ons eie, interne proses, volgens voorskrifte.”
McKnight het gesê dié ernstige geweldsvoorval is die enigste ooit wat nog by Zwartberg gebeur het.
“Dis ’n geïsoleerde geval. Die skool het ’n bestaande veiligheidsplan. Hiervolgens word terreindiens gereeld gedoen, ook in pousetyd. Daar is ook altyd onderwysers in die gange tussen periodes. Dis ’n skool met 467 leerders en die skool doen wat hy kan om oral ’n ogie te hou.
“Daar vind ook periodiek deursoekings van leerlinge en hul tasse plaas, sonder waarskuwing vooraf, veral vir wapens en dwelms. Die kwessie is: Hoe vinnig kan die skool in so ’n geval optree? En word die regte stappe gevolg?”
Bronagh Hammond, WKOD-woordvoerder, het by navraag gesê ’n veilige leeromgewing is van kritiese belang vir gehalteonderrig.
“Die WKOD pas verskeie strategieë toe om skoolgeweld aan te spreek en veiligheid te verseker. Ongelukkig is baie van die veiligheidsrisiko’s die gevolg van gemeenskaps- en bendeverwante geweld, wat buite ons mandaat en beheer val. Ons maak dus staat op ander regeringsdepartemente en wetstoepassingsagentskappe soos die SAPD en die departement justisie.”
Volgens die Prins Albert Polisie is ’n hofdatum vir die vermeende oortreder nog nie bepaal nie.
Die ondersoek duur voort. (Deur Marlene Malan)
17-jarige in hegtenis ná mesaanval
