Die afgebrande gebou. Foto verskaf
Deur Angelique Erasmus
VIER gesinne van Calitzdorp is haweloos gelaat nadat die gebou waarin hulle bly, afgebrand het.
Die brand in die ou kliniekgebou, wat in Bergsig geleë is, het Maandag omstreeks 20:00 ontstaan.
Die nooddienste is dadelik na die toneel ontbied, maar omdat Calitzdorp nie ’n eie brandweerstasie het nie, moes brandweerwaens vanaf Ladismith ontbied word.
Die 15 inwoners het al hul huisraad, meubels en klere in die brand verloor.
Volgens kapt Ian Meyer, woordvoerder van die Calitzdorp Polisie, is die oorsaak van die brand nie bekend nie.
Die Calitzdorp Polisie het Dinsdag komberse vir die gesinne geneem. Enigiemand wat kan help met klere of enige ander items kan dit by die Calitzdorp Polisiekantoor gaan afgee.