Die motor met ’n jong bestuurder agter die stuurwiel het Saterdag in die vroeë oggendure teen die muur op die hoek van Jan van Riebeeckweg en Scheeperstraat gebots. Die jong bestuurder is na verneem word deur ’n inwoner van die omgewing huis toe geneem terwyl die motor vroeg Sondagoggend deur die nooddienste verwyder is. Volgens kapt Louis Visser, woordvoerder van die Oudtshoorn Polisie, word geen saak ondersoek nie. Foto verskaf
Deur Garnett Wicomb
’N Man van Oudtshoorn wat ’n voorwaarde van ’n opgeskorte vonnis verontagsaam het, is in die distrikshof vir nege maande tronk toe gestuur nadat die vonnis in werking gestel is.
Ignatius Rossouw (29) is in Junie 2016 nege maande gevangenisstraf vir diefstal opgelê wat vir drie jaar opgeskort is.
Hy is egter vroeër vanjaar, enkele maande voor die verstryking van die drie jaar, weer vir ’n soortgelyke misdryf in hegtenis geneem en op 1 Augustus tot 24 maande gevangenisstraf gevonnis.
Die staat het toe ’n versoek gerig vir die inwerkingstelling van die opgeskorte vonnis.
Landdros Theolin November het verlede Donderdag gesê Rossouw het nie die kans wat hom gegun is, gebruik nie.
Hy het die geleentheid gehad om aan die gemeenskap te bewys dat hy kan wegbly van misdaad en om sy skoolloopbaan te voltooi.
“Die lewe gaan oor besluite en die gevolge wat dit inhou,” het die landdros gesê.
Rossouw het 13 vorige veroordelings op sy rekord en dit blyk nie asof hy moeite doen om homself te help nie, het die landdros gesê voordat hy Rossouw gevonnis het..