Deur Garnett Wicomb
EEN van twee broers van Van Wykskraal net buite Oudtshoorn wat ’n bejaarde winkeleienaar wreed aangerand en beroof het, is in die Oudtshoorn Streekhof 13 jaar tronkstraf opgelê nadat hy aan roof met verswarende omstandighede skuldig bevind is.
Ronaldo Olkers (20) en sy broer, Jacobus van der Horst (34), is daarvan aangekla dat hulle op 29 Mei 2017 vir Frans Tredoux in sy winkel met ’n knopkierie geslaan, met ’n skerp voorwerp gesteek en van R200 kontant beroof het.
Tredoux is einde 2017 oorlede.
Olkers het in ’n vrywillige bekentenis erken dat hy Tredoux met ’n kierie geslaan en met ’n mes gesteek het.
Die staatsaanklaer, Hyron Goulding, het die hof gister versoek om nie af te wyk van die voorgeskrewe vonnis van 15 jaar vir roof met verswarende omstandighede nie. Die bejaarde eggenote van Tredoux het in ’n roerende getuienis ter strafverswaring getuig hoedat sy haar man mis en nooit sy bebloede gesig sal kan vergeet nie.
Streeklanddros Ntsoki Moni het met vonnisoplegging gesê dat Olkers geen berou toon nie en ’n sterk boodskap met die vonnis uitgestuur moet word. Olkers is ook onbevoeg verklaar om ’n vuurwapen te besit.
Die saak teen sy broer wat onskuldig pleit, is vir verhoor in ’n ander hof, tot 27 Junie 2019 uitgestel.