’N MAN van Nelsrivier naby De Rust, Norman Avontuur (36), is in die streekhof op Oudtshoorn aan moord op sy saamleefmaat skuldig bevind en 12 jaar gevangenisstraf opgelê.
Streeklanddros Ntsoki Moni het Avontuur ook onbevoeg verklaar om ’n vuurwapen te besit.
Avontuur het aanvanklik skuld erken maar later verander en onskuldig gepleit.
Hy het in ’n pleitverduideliking erken dat hy die 32-jarige René Swartbooi op 13 Maart 2019 met ’n stuk hout geslaan het en wat tot haar dood gelei het. Hy het erken dat hulle die betrokke dag saam met vriende gekuier en Swartbooi later huis toe wou gaan. Hy is agterna en hulle was in ’n woordewisseling waarna hy haar met ’n stuk hout begin slaan het.
Hy het ook erken dat hy baie kwaad geword en sy humeur verloor het, maar nie voorsien het dat sy kon sterf nie. Avontuur het nadat sy pleitverduideliking voorgelees is, aan die hof gesê dat hy ’n fout begaan het om skuldig te pleit op ’n klagte van moord.
Leon Campher, ’n gemeenskapsleier van Dysselsdorp, het gesê hoewel inwoners nie tevrede is met die aantal jare gevangenisstraf wat Avontuur opgelê is nie, is hulle dankbaar dat mense soos hy en Gert Malgas wat betrokke was by geslagsgeweld, skuldig bevind en gevonnis is.
Malgas is in Mei tot 38 jaar tronkstraf gevonnis nadat hy skuldig bevind is aan onder meer die moord op sy saamleefmaat, Josephine Jacobs (37), en hul seuntjie, Gerano (7), nadat paraffien op die bed uitgegooi is waarop hul gelê het en aan die brand gesteek is. (Deur Garnett Wicomb)