Deur Ilze-Mari Gründling
TIEN inwoners van die Groter Oudtshoorn toets tans ’n nuwe munisipale toepassing (app) wat eersdaags dit makliker vir inwoners sal maak om sommer per selfoon navrae aan die munisipaliteit te rig en inligting te ontvang.
Oudtshoorn is een van die eerste munisipaliteite waar die toepassing – wat ten doel het om kommunikasie tussen inwoners en al die munisipaliteite in die Wes-Kaap te vergemaklik en te verbeter – geloods word.
’n Opleiding- en inligtingsessie vir die tien inwoners van Wesbank, Oudtshoorn-Noord, Oudtshoorn-Suid, Toekomsrus, Bongulethu, Beverly Circle, Smartie Town, Volmoed, De Rust, Dysselsdorp en Bridgton is onlangs aangebied.
Die nuwe toepassing is deur die Wes-Kaapse Departement van Plaaslike Regering ontwikkel.
Die burgemeester van Oudtshoorn, Colan Sylvester, sê die program sal vir enigeen beskikbaar wees.
Die tien inwoners moet nou die toepassing gebruik en uittoets en terugvoer gee aan die munisipaliteit voordat dit amptelik aan die publiek beskikbaar gestel word.
“Ons moet seker maak dat daar nie enige probleme met die program is nie,” sê Nicole September, sake-analis van die Departement van Plaaslike Regering. “Hierdie inwoners kan ons help om die probleme uit te skakel.”
Voordele van die toepassing sluit in:
• Dit bied ’n verhoudingsplatform tussen inwoners en die munisipaliteit;
• Versnel reaksie met betrekking tot dienste in munisipaliteite;
• Voorsien ’n gebruikersvriendelike kommunikasiebrug vir inwoners;
• Dit beïnvloed die besluitnemingsproses in die munisipaliteit; en
• Het ’n positiewe impak op begrotingverwante besluite in die munisipaliteit.
Daar is nog nie ’n vasgestelde datum vir die amptelike vrystelling van die toepassing nie.