Dié foto is geneem by die jaarlikse skoonmaakproses van Oudtshoorn se Nuwe Oos-reservoir, wat ’n kapasiteit het van 13,5 miljoen liter. Foto verskaf
DIE vyf reservoirs op Oudtshoorn word jaarliks skoongemaak en ontsmet, sê Johan Uys, bestuurder grootmaatwater, by die Oudtshoorn Munisipaliteit.
Een van die dorp se reservoirs wat bekend staan as die Nuwe Oos-reservoir het verlede week sy jaarlikse skoonmaak gehad. Dié reservoir is op ’n koppie bokant die Oudtshoorn Gevangenis geleë. Dié reservoir en drie ander reservoirs op Oudtshoorn berg 13,5 miljoen liter water, terwyl die vyfde, wat bekend staan as die Kerkstraat-reservoir, heelwat kleiner is en 3,6 miljoen liter water kan hou.
Volgens Uys word die reservoirs tydens die skoonmaakproses eers skoongevee. Daarna word ’n bietjie water ingetap en dit ordentlik met chloor ontsmet. Dan eers word die reservoir weer gevul.
Tydens die skoonmaakproses word die watertoevoer na die reservoir afgesluit en die water direk in die waternetwerk ingevoer sodat daar geen onderbreking in die lewering van water is nie.