Nuwe huiseienaars Maandag met hul transportaktes. Foto: Garnett Wicomb
DIE behuisingsafdeling van die Groter Oudtshoorn Munisipaliteit het Maandag (18 Februarie) transportaktes aan 53 opgewonde huiseienaars in die Vuyani-omgewing in die dorp oorhandig.
Die transportaktes is deur die burgemeester, Colan Sylvester, die onderburgemeester, Noluthando Mwati en raadslid Laurington Stone aan die nuwe huiseienaars oorhandig.
Mwati het die nuwe huiseienaars gevra om nie hulle huise te verkoop nie. “Moenie die ontvangs van ’n huis as vanselfsprekend aanvaar nie. Beskou dit as ’n voorreg en wees dankbaar daarvoor.”
Sylvester het op sy beurt die huiseienaars aangemoedig om hul huise aan hul kinders oor te dra. Hy het die belangrikheid van ’n testament beklemtoon en gesê: “Mag u die generasies na u in ’n posisie van eienaarskap plaas deur nie van u huis ontslae te raak nie.”
Shehaam Sims, waarnemende direkteur van die Departement Menslike Nedersettings, sê eienaars mag huise eers agt jaar na die ontvangs van ’n transportakte verkoop. Sy het mense gewaarsku dat enigiemand wat so ’n huis koop voordat die agt jaar verstryk het, sal vind dat die huis nie op sy of haar naam oorgedra word nie, maar op die eerste eienaar se naam bly.
Eienaars wat so ’n huis binne die agt jaar wil verkoop, moet eers die behuisingsafdeling besoek, wat daarna sal ondersoek instel of daar ’n geldige rede vir die verkoop van die huis is.