Die dag toe Vaaltefie, die Poton, ’n Alfa laat modder vreet het…

’n Tekening van Vaaltefie. (Skets: Katot Meyer).

’n Alfa Romeo Giulia 1600.

’n Mercedes-Benz Ponton 190D.

Katot Meyer in sy studentedae.

Deur Schalk le Roux
DIGBY ’n halfeeu gelede het ’n baie buitengewone tweestryd tussen ’n Alfa Giulia en Mercedes-Benz Ponton 190D (D = diesel) op die grondpad tussen De Vlugt en die N9 nie ver van Uniondale af plaasgevind nie.

Die Alfa Giulia het ’n tydrenjaer wie se naam nie aan Die Hoorn bekend is nie, agter die stuur gehad en die Mercedes vir Oudtshoorn se Katot Meyer, toe nog ’n jong student.

Katot vertel hy het sowat 50 jaar gelede tydens universiteitsvakansies op sy pa se plaas Pieters-­rivier naby De Vlugt help perskes oes om by te dra tot ’n studentemotor.

Hy het toe die betrokke 1961 Ponton vir R750 by Stanmar Motors op George gekoop en hom Vaaltefie genoem.

Katot onthou ’n staatsdiensstudiebeurs in 1969 was sowat R500 per jaar. Diesel het tussen 16c en 20c per gelling (4,5 liter) gekos. Met brandstofverbruik van 30 m/g, het dit R10 gekos om van Stellenbosch na Windhoek en terug te ry, vertel hy.

Die Ponton 190D was grys met ’n wit dak en sy naam was Vaaltefie.

Maar terug na die tweestryd tussen die Giulia en Vaaltefie:

Katot vertel toe hy op Krugersdag op 10 Oktober 1971 by sy pa se plaaswerf uitry op pad terug na die Universiteit van Stellenbosch toe, beland hy per abuis in ’n tydren waarvan die 26 km lange stuk grondpad tussen De Vlugt en die N9 deel is.

“Toe ek met Vaaltefie se neus in die pad staan, sien ek ’n onbekende renjaar met sy helm op sy kop en sy navigator langs hom in ’n Alfa Guilia 1600 met ’n groot rennommer op sy kant voor my verbyjaag. Ek het dadelik besef hy neem aan ’n tyd­ren deel. As jong man het my bloed dadelik vinniger begin vloei.”

Katot sê die pad was die dag nat deurdat dit aan en af gereën het. Die padoppervlakte het baie weerskade gehad en die rooi kleigedeeltes was taamlik glad.

’n Alfa Giulia 1600 van daardie tyd met sy 15 duim vellings het 72 kW krag gelewer en het ’n topsnelheid van 171 km/h gehad. Met sy baie krag het die Alfa se wiele egter maklik getol wat dit momentum laat verloor het wat nie ideaal op ’n nat grondpad is nie.

“Toe ek agter hom inval, besef ek gou ek is nou pens-en-pootjies in ’n wedren en dat ek alles uit Vaaltefie, wat maar 40 kW krag gelewer het, moet haal sodat ek nie in die pad van die karre agter my beland nie.”

Katot vertel ’n paar kilometer verder kom hy tot sy verbasing agter dat hy die Alfa inhaal omdat die Ponton, wat lekker swaar is, verbasend padvas deur die draaie gery het terwyl die Alfa die wêreld vol gegly het.

“Die pad het baie bedrieglike kronkels in gehad en ek kon sien die Alfa verloor spoed wanneer sy wiele in die draaie tol. Met die adrenalien wat toe behoorlik gevloei het, het ek begin dink ek sal die Alfa in die regte draai kan verbysteek.”

Katot, wat die betrokke pad baie goed ken, besef toe daar lê so ’n lekker lang draai, wat boonop teen ’n afdraand is, voor.

Intussen het hy vir die grap vir die Alfa-bestuur-der begin ligte flikker en by die betrokke draai sy verbysteekmaneuver in werking gestel.

Katot sê hy kon net dink wat deur die Alfa-bestuurder se gedagtes gegaan het:

“Wat flits die ou Mercedes dan nou sy ligte so vir ons? O gonna! Hier kom hy dan nou aan die buitekant van die draai verby! Dit kan nie wees nie. Kyk, daar draai swart rook by sy uitlaatpyp uit. Dit kan tog nie ’n dieselkar wees nie!”

Katot sê toe hy eers voor was, het die pad reguiter geraak, maar het hy die pad behoorlik vol gery sodat die Alfa maar die modder kan vreet, en nie Vaaltefie nie.

Vaaltefie het as beloning vir sy puik vertoning die volgende week ’n goeie diens gekry.

• Dit is duidelik dat Katot baie erg oor Pontons is. Daar staan ’n ry van hulle onder ’n afdak op Pietersrivier.

“Vir my was dit huistoegaankar, vrykar* en toer-kar. Nadat ek en Ilse getrou het, het ons baie jare lank Pontons gery.

“Ek is nou besig om die stuurstang, rubbers, uitlaatpyp en verkoelerpype van een van ons Pontons te vervang en dit in ’n rybare toestand te kry.

“Ons wil ’n paar grondpadtoere, insluitende die G62 tussen Montagu en die Langkloof wat ’n grondpadalternatief vir die R62 is, aanpak.

*Vrykar: Katot sê met die kompressie van die dieselkar wat al laag was, moes hy ’n meisies-koshuis met ’n afdraand soek vir ’n running start.