
Oudtshoorn Landdroshof.
Deur Garnett Wicomb
TWEE mans van Oudtshoorn wat ‘n boerboklam van ‘n kleinboer gesteel het, is in die Oudthoorn Landdroshof aan veediefstal skuldig bevind en opgeskorte vonnisse opgelê.
Jan Afrika (44) en Henrico Kiewiets (28) het erken dat hulle op 26 Oktober verlede jaar die boerboklam ter waarde van sowat R650 van ‘n kleinboer op Van Wykskraal gesteel het om dit vir ‘n kraan wyn te gaan verkoop.
Die twee se regshulpprokureur, Jacques Malan, het die hof gevra om in ag te neem dat die misdaad nie beplan was nie en dat die beskuldigdes skuld beken het.
Die staatsaanklaer, Vandena Premchand, het vir direkte gevangenisstraf gevra omdat die twee beskuldigdes nie eerste oortreders is nie en aan ‘n ernstige aanklag skuldig bevind is.
Landdros Lorraine Samuels het met vonnisoplegging gesê sy neem in ag dat die twee mans hul samewerking aan die polisie gegee en skuldig gepleit het. “Veediefstal is egter ‘n ernstige misdaad. Die landbou en vee hou die ekonomie aan die gang,” het die landdros gesê. “Julle kan albei ‘n winsgewende bydrae tot die samelewing lewer en moet ‘n kans gegun word.”
Albei is tot 18 maande gevangenisstraf gevonnis wat voorwaardelik in geheel vir vyf jaar opgeskort is. Hulle is albei reeds in die verlede onbevoeg verklaar om ‘n vuurwapen te besit.