Twee dwelmfondse in een week

TWEE mans van Ladismith is in twee afsonderlike voorvalle vir die besit van dwelms aangekeer.

In die eerste voorval is ’n 29-jarige man op 7 Februarie met tik in sy besit gevang, nadat hy dit probeer verkoop het by Towerkop Primêr se atletiekbyeenkoms.

Die polisie het hom in Kerkstraat aangekeer, en vier sakkies tik met ’n totale gewig van 22,3g is op hom gevind.

Volgens ao. Jan Cedras, woordvoerder van die Ladismith Polisie, het die man Maandag in die Ladismith Landdroshof verskyn.

Die voorsitter van die gemeenskapspolisieforum, Dawid Bothman, het sy dankbaarheid teenoor die polisie uitgespreek.

“Ek is baie bekommerd oor dwelmgebruik onder die jeug. Die gemeenskapsveiligheidsplan moet deur die plaaslike regering aanvaar en uitgevoer word,” het Bothman gesê. Volgens hom kan die plaaslike regering ’n groot rol speel in die uitbreiding van die buurtwagstruktuur.

In nog ’n voorval is ’n 24-jarige man Maandagoggend 10 Februarie teen ongeveer 00:05 in hegtenis geneem vir die besit van dwelms.

Die 29 Mandrax-tablette was in ’n plastieksak in sy besit gevind.

Volgens Cedras was die tablette vir Zoar bestem en het die man van Kaapstad af met ’n taxi na sy bestemming toe gery.

Die verdagte het gister (Woensdag), in die Ladismith Landdroshof verskyn op aanklag van die handel in Mandrax-tablette. (Deur Angelique Erasmus)