In slaapkamer met dood gedreig vir PIN-nommers en ‘goud’

’n Skets van die hangertjie wat gesteel is en waarvoor ’n beloning aangebied word.

’n Skets van die hangertjie wat gesteel is en waarvoor ’n beloning aangebied word.

Deur Ilze-Mari Gründling
“DIE man het my met die dood gedreig en gesê ek moet my pinnommers gee. Hy het gesê nog twee ‘pêlle’ wag vir my buite die kamer. Ek het dit maar gegee, maar niks is getrek nie.”

So vertel ’n 62-jarige vrou van Oudts­hoorn oor haar nagmerrie-ervaring Woens­­­­­­dagnag nadat twee mans by haar woonstel in St Georgesstraat ingebreek het terwyl sy al geslaap het. Sy vertel sy het nie gehoor toe hulle inbreek nie, en eers wakker geword toe die man in haar kamer was.

Die vrou, wie se naam op haar versoek weerhou word omdat sy vir haar veiligheid vrees, sê die man in haar slaapkamer het haar probeer versmoor. Hy het ook die hele tyd vir goud gevra.

“Ek het gesê ek het nie goud nie, maar hy het aangehou. Hy het bo-op my op my bed gesit en gevra vir goud. Hy het deur al my persoonlike besittings gekrap. Hy het ook ’n hangertjie, wat baie waardevol vir my is, gevat.”

Haar selfoon, juweliersware, bank­kaarte en mo­tor is gesteel. Hoewel sy slegs lig beseer is in die voorval, is sy tans baie getraumatiseer.

Die motor is intussen teruggevind en twee mans vasgetrek.

Volgens sers Gretchen Michaels, woord­voerder van die Oudtshoorn Po­lisie, het die mans tussen 20:15 Woensdag en 03:30 Donderdag by ’n woonstel in JJJ Flats in St Georgestraat ingebreek.

Renier Claassen (33) en Jacobus Rian Nel, ook bekend as ‘Ruan’ Nel (25) is onderskeidelik Donderdag en Vrydag in verband met die voorval in hegtenis geneem.

Hulle verskyn vandag in die Oudts­hoorn Landdroshof op klagtes van huisroof en die diefstal van ’n motorvoertuig.

• ’n Beloning word aangebied vir inligting wat kan lei tot die terugbesorging van die hangertjie – ’n ketting van 9 karaat goud met ’n hangertjie van 18 karaat goud wat die Griekse Parthenon-tempel uitbeeld.