’n Fietsryer is gister (3 Desember) in Parkweg beseer nadat hy glo deur ’n voertuig getref is. Die man is met ’n ambulans na die Oudtshoorn Hospitaal geneem en later na die George Hospitaal vervoer vir verdere mediese behandeling. Sy toestand is nog nie bekend gemaak nie.
Volgens lt. kol. Malcolm Pojie, ‘n polisiewoordvoerder, is ’n saak van nalatige en dronk bestuur geopen teen die bestuurder van die betrokke voertuig. Die bestuurder het nog nie in die hof verskyn nie en ondersoeke duur voort.
Hierdie voorval kom te midde van ’n skerp toename in dronkbestuursarrestasies in die Wes-Kaap. Die Mobiliteitsdepartement het onlangs bevestig dat 24 mense binne net een week vir bestuur onder die invloed gearresteer is.
Mobiliteitsminister Isaac Sileku het sy kommer uitgespreek oor die groeiende probleem. Hy sê dat elke bestuurder wat na drinkery agter die stuur inklim, nie net hul eie lewe in gevaar stel nie, maar ook die van ander. Met die feestyd wat voorlê, word wetstoepassing verskerp om padgebruikers te beskerm.
Hoofdirekteur van Verkeersbestuur, Maxine Bezuidenhout, het bygevoeg dat selfs klein hoeveelhede alkohol iemand se oordeel en reaksievermoë kan beïnvloed. Sy het die publiek versoek om verantwoordelik op te tree en nie die veiligheid van ander in gevaar te stel nie.
Owerhede beklemtoon dat motoriste en die gemeenskap saam moet staan om dronk bestuur te verminder, veral nou in Desember wanneer verkeersdruk, partytjies en sosiale byeenkomste toeneem.
Lede van die publiek word aangeraai om vooruit te beplan deur ’n nugter bestuurder aan te wys, gebruik te maak van alternatiewe vervoer, oor te bly waar hulle kuier, of iemand anders vir ’n rit te vra. Mense word ook gemaan om nie saam met iemand te ry wat gedrink het nie, selfs al is dit ’n kennis.
“Jou besluit kan ’n lewe red,” waarsku verkeersbeamptes.
