DIE Oudtshoorn Polisie het Saterdagoggend omstreeks 04:00 ’n jong man vasgetrek wat binne-in ’n motor in ’n erf op die hoek van Parkweg en Victoriastraat gesit het.
Volgens sers Gretchen Michaels, woordvoerder van die Oudtshoorn Polisie, was die polisie besig met ’n patrollie toe hulle ’n man binne ’n voertuig sien sit het.
“Die 21-jarige kon geen verduideliking gee wat hy in die voertuig gesoek het nie,” sê Michaels.
Volgens die eienaar van die eiendom, Quintin van Heerden, het die man die hek wat toegang tot hul erf gee, uit die spoor waarop dit loop, gelig en eenkant neergesit om in die erf te kom.
Die man, ene S Robertson, is in hegtenis geneem vir poging tot diefstal uit ’n motorvoertuig. Hy het reeds Maandag in die Oudtshoorn Landdroshof verskyn.