Saamleefmaat met mes gesteek
Deur Garnett Wicomb
’N JONG vrou van De Rust wat haar saamleefmaat met ’n mes in die nek gesteek het, is in die Oudtshoorn Streekhof aan ernstige aanranding skuldig bevind en ’n opgeskorte vonnis opgelê.
Shariefa Swartbooi (21) het aanvanklik tereg gestaan op ’n aanklag van poging tot moord nadat sy haar saamleefmat, Ivan Scholtz, met ’n mes gesteek het.
Sy het egter skuldig gepleit op ’n aanklag van aanranding om ernstig te beseer.
Volgens haar getuienis het sy kwaad geword toe Scholtz nie aan haar kon verduidelik waar hul baba was nie.
In die stryery wat daarna gevolg het, het sy Scholtz met die mes wat sy in haar hand gehad het gesteek.
Waarnemende streeklanddros Wilkens het met vonnisoplegging gesê om iemand met ’n mes te steek is nie die oplossing vir probleme nie.
Hy het Swartbooi se erkenning van skuld vir vonnisdoeleindes in ag geneem.
Sy is gevonnis tot drie jaar gevangenisstraf wat vir vyf jaar opgeskort is op voorwaarde dat sy nie weer skuldig bevind word aan ’n misdaad waarvan aanranding ’n element is nie.
Sy is ook onbevoeg verklaar om ’n vuurwapen te besit.