’N 24-Jarige man van Oudtshoorn het die naweek by die Meiringspoort-waterval buite De Rust verdrink.
Volgens kapt Gert Fourie, stasiebevelvoerder van die De Rust Polisie, het Eugene Mathenzwa na wat verneem word Saterdag omstreeks 13:35 by die waterval afgespring en nie weer opgekom nie.
“Iemand het hom uitgehaal. Toe die Polisie daar aankom, was daar twee mense wat vergeefs probeer het om hom by te kry,” het hy gesê.
Fourie sê ooggetuies kon nie inligting oor die voorval verskaf nie omdat hulle te geskok was.
Volgens Fourie is Mathenzwa van die proefplaas-omgewing.
- ’n 29-jarige inwoner van Dysselsdorp, Rodney Kok, het ook by die waterval gesterf toe hy op Nuwejaarsdag 2014 by die waterval afgespring het. Hy het vermoedelik ’n rots getref en verdrink.
(Deur Stefan Skapie Goosen)